Skip to main content

ATKV-Tienertoneel betree die grootmenswêreld

Wêreldteaterdag is ’n dag om die kunsvorm van teater te herdenk en geniet. Dit is ’n uitbundige viering van kreatiwiteit en uitdrukkingsvermoë wat ook in ons sonskynland moet seëvier. Dis ’n dag wat ons herinner aan die kragtige vermoë van die teater om die menslike ervaring vas te vang en ten toon te stel in al sy vermaaklike fasette. Dit is ook ’n dag waarop daar hulde gebring word aan die dramaturge, akteurs, regisseurs en kunstenaars wat ons meesleur op ’n reis van emosies en gedagtes.

Die ATKV as kultuurorganisasie ondersteun ’n dag soos vandag, omdat dit aanhaak by die uitbou van die teaterwêreld, verál in die Afrikaanse taal. Dit gee ook vlerke aan diegene wat ’n sterk verbintenis het met die wêreld van teater en uitdrukking.

“Die ATKV het nog altyd insiatiewe in plek waarmee gegroei en gewoeker word om te sorg dat Afrikaanse teater gesond bly, sê JJ van Niekerk, die projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel.

Op Wêreldteaterdag kan die ATKV ook spog met ATKV-Tienertoneel se prestasies. Hoewel die ATKV se groot toneelaanbod in volle glorie gevier word, val die kollig veral op twee projekte wat fokus op jeugteater en die kweek van liefde vir toneel: ATKV-Tjokkertoneel en ATKV-Tienertoneel. Laasgenoemde projek bestaan al nagenoeg 59 jaar en heelwat teaterlui is produkte van dié gewilde toneelkompetisie. As projek het ATKV-Tienertoneel al só gegroei dat dit nou al ’n volwaardige plek kry op nasionale kunstefeeste soos die KKNK, die Toyota US Woordfees en die Suidoosterfees.

Tydens vanjaar se 20ste Suidoosterfees, wat van 26 April tot 1 Mei plaasvind, sal die vier wenproduksies van ATKV-Tienertoneel 2022 op die planke wees. Hierdie uitstaande produksies is DIE SUSTERSKAP, mAaNmAaTs, ’n Einde en wat die water weet.

’n ATKV-Tienertoneelpakket word ook as ’n opleidingsgeleentheid vir onderwysers en regisseurs aangebied oor drie dae. Vir slegs R1200 kan deelnemers die topvier ATKV-Tienertoneelproduksies, ander teaterproduksies op die feesprogram en werkswinkels bywoon. Die werkswinkels, onder leiding van Christo Davids en Wessel Pretorius, dien as ’n slypskool om teatervaardighede te ontgin.

Die ATKV is trots om vanjaar weer saam met die Jakes Gerwel-stigting die Jakes Gerwel-gespreksreeks aan te bied. Volgens Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW, is dit vir die ATKV ’n reusevoorreg om betrokke te wees by die 20ste Suidoosterfees. Dat die fees ’n platform vir gevestigde kunstenaars én ’n smeltkroes vir nuwe talent is, skakel goed in by die ATKV se eie strewe na uitnemendheid deur blootstelling en opleiding, sê Brits.

Die ATKV se nuutste ontwikkelde produksie, ’n Onwaarskynlike reeks skynbaar onverwante oomblikke of Dinsdag, word eersdaags van 1 tot 9 April by die KKNK op die planke bekendgestel.

Dié tragi-komedie was in 2021 die naaswenner van ATKV-Tienertoneel en maak nou sy buiging as professionele produksie tydens die KKNK. Die voormalige ATKV-Tienertoneeldeelnemers en vervaardigers van die toneelstuk, Hendrik Nieuwoudt en Reuben Murphy, sê dit het net sin gemaak om die ATKV aan boord te kry, omdat die stuk vir ATKV-Tienertoneel 2021 geskryf en opgevoer is.

“Ons kon dit verwerk in ’n professionele produksie met akteurs, skrywers en regisseurs wat oorspronklik deel was van ATKV-Tienertoneel toe hulle self op skool was. Dit sluit die akteurs Réne Cloete en Reuben Murphy in.

“Ons gaan kyk nog self na Tienertoneel, want dit skep ’n ongelooflike platform vir ons as skrywers en regisseurs om dinge uit te probeer en vry te wees. Deur tienerstories kan jy meer vindingryke goed ontgin as wat mense in ’n professionele wêreld sal doen,” sê Niewoudt.

“Dit is veiliger, maar ook ’n kompeterende platform. Ons het almal op skool begin en kan nou ’n bestaan daaruit maak. Dit voel eintlik soos ’n volsirkel-oomblik vir almal van ons om daar te begin en op te eindig met ’n volwaardige produksie by ’n kunstefees. Ons is ATKV-Tienertoneel altyd dankbaar daarvoor,” sê Nieuwoudt.