ATKV-Tienertoneel: Grenslose nasionale finaliste bekend!
Die 59ste ATKV-Tienertoneel was vanjaar grensloos, met 3 200 tieners wat hul stories tydens agt streeksfeeste landswyd vertel het.
195 produksies van regoor Suid-Afrika het nie op die planke teruggehou nie en die mentorbeoordelaars was weereens verstom oor die gehalte en kreatiwiteit waarmee vandag se tieners teaterproduksies aanpak.
Marlo Minaar, een van vanjaar se mentorbeoordelaars, meen dat die talent wat tydens ATKV-Tienertoneel te sien is, bemoedigend is sover dit die toekoms van Suid-Afrikaanse teater betref.
“Ek beskou dit altyd as ’n voorreg om deel te wees van die ATKV-Tienertoneel. Om jong talent in die uitvoerende kunste deur hierdie platform te sien ontwikkel en groei tot passievolle teatermakers, en te weet dat ek ’n klein bydrae kan lewer deur mentorskap en leiding, maak my hart opgewonde. Dit gee my moed vir die toekoms van Suid-Afrikaanse teater.”
ATKV-Tienertoneel se unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel deurdat die deelnemers aan elke produksie na afloop van hul optrede met mentorbeoordelaars, wat hul merk maak in die vermaaklikheids- en tersiêre-onderrigbedryf, in ’n tweerigtingsgesprek tree en saam kopkrap oor die tieners se produksies.
Vanjaar se mentorbeoordelaars was Marijda Kamper, Mari Molefe van Heerden, Marlo Minnaar, André Lotter, Jacques Bessenger, prof. Marié-Heleen Coetzee, Lindsey Cele, Ilana Cilliers, Wilhelm van der Walt en Solomon Cupido.
Ilana Cilliers is van mening dat ATKV-Tienertoneel ryk, dinamies en vol verskeidenheid is.
“Die ATKV-Tienertoneelkompetisie lê my en baie ander akteurs so na aan die hart. Vir baie van ons was dit ’n wegspringplek. Die eerste byt van die gogga. Die eerste keer dat ek gevoel het, sjoe – ek kan hierdie dalk vir ’n lewe doen! Dis heerlik om te sien hoe gesond dit voortleef, ryk en dinamies, met ’n groot verskeidenheid style, kulture en stories wat verteenwoordig word en, die belangrikste van alles, dat dit nogsteeds vir jong kunstenaars die geleentheid gee om te droom.”
Met ATKV-Tienertoneel word leerders soveel geleenthede moontlik gegee om by alle aspekte van ’n toneelstuk betrokke te raak, met ander woorde, by die spel, regie, skryf, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie en selfs bemarking!
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van ATKV-Tienertoneel, is daarvan oortuig dat die toekoms van die kunste in Suid-Afrika gesond en grensloos is.
“ATKV-Tienertoneel het vanjaar weereens bewys gelewer van grenslose talent, passie en kreatiwiteit. Die produksies praat hard en duidelik met elke gehoorlid en die stories kruip grensloos in die harte van teatergangers, wat ’n werklike verskil in ons samelewing teweegbring. Dit was ook vanjaar opmerklik dat ATKV-Tienertoneel die platform bied om die taal inklusief te bevorder deurdat ander landstale saam met Afrikaans gehoor is op verhoë. Die passievolle manier waarmee leerders wat Afrikaans as hul derde of selfs vyfde taal beoefen en dan ook so stories uit hul gemeenskap vertel, was boeiend en inspirerend!”
Die top-10 produksies, asook die twee beste produksies met slegs leerders, word genooi na die nasionale finaal, wat tussen 3 en 6 Oktober in die Lyric-teater by Gold Reef City in Johannesburg plaasvind.
Hierdie finaal pas naatloos in by vanjaar se “grensloos”-tema en hope is op die spel: Die wenproduksie stap vanjaar weg met die ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, R30 000 kontant en ’n speelvak tydens die Toyota US Woordfees.
Die naaswenner kry ’n kontantprys van R20 000 en die derdeplekwenner kry R10 000.
Totale prysgeld van R75 000 word vanjaar uitgeloof en die beste van die bestes word tydens ’n spogprysuitdeling op 6 Oktober gekroon.
Die top-10 produksies wat na die nasionale finaal deurdring, is as volg:
– Mac & Beth deur die Helpmekaar Kollege in Johannesburg
– DIE S-EFFEK deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville
– Bulldozer deur die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas
– praat gou weer deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
– as die sinkdakke kon skree deur die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
– 23KG deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
– Wegwêreld deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
– Vry deur die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein
– LYF deur die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
– Tussen die lang grasse deur die Hoërskool Hugenote in Springs
Die top-2-produksies met slegs leerders, wat sake tydens die nasionale finaal moet uitspook, is:
– Slaansak deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
– Liewe Anna deur die Helpmekaar Kollege in Johannesburg
Die beste slegs-leerders-produksie stap weg met ’n kontantprys van R10 000.
Kaartjies vir die ATKV-Tienertoneel-finaal is vanaf Woensdag 6 September by Webtickets beskikbaar.
Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor die ATKV-Tienertoneel se nasionale finaal en moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie.