ATKV-Tienertoneel is 60!
Dit was die jaar 1963. Daar was nog nie McDonald’s, Starbucks, of ’n televisiestel in Suid-Afrika nie. En nee, tieners, daar was beslis ook nie selfone, skootrekenaars, Instagram of Krispy Kreme nie! Wat wel toe al daar was, was Afrikaans, en die organisasie wat dit bevorder. Dit was in daardie jaar wat die ATKV besef het dat dit wel goed met die taal gaan – maar die mense kort ’n bietjie kultuur. Só is daar besluit om meer mense aan die wonder van teater bloot te stel.
Die eerste projek was op volwasse amateurgroepe gerig, maar in 1964 is daar ’n toneelkompetisie vir skole ingestel en dit was die begin van dit wat ons vandag as ATKV-Tienertoneel ken. Die eerste skole wat pryse gewen het, was die Hoërskool Glencoe, die Hoërskool Kempton Park en ’n Bellvillese dramaskool.
Tienertoneel het deur die jare bly groei en by die tye aangepas tot waar dit vandag is: ’n inklusiewe ervaring waar jongmense hulself op die verhoog kan uitleef. Kyk jy na die name van deelnemers en beoordelaars deur die jare, is dit soos ’n BBP-lys van ons beste akteurs, dramaturge, skrywers en regisseurs.
Vir JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod, bly dit ’n groot lekkerte om daarby betrokke te wees. Hy lééf Tienertoneel, want hy was immers tien jaar betrokke as regisseur, ses jaar as koördineerder en is nou vier jaar lank in die stoel as projekorganiseerder.
“Die ATKV-Tienertoneelkompetisie is die oudste ATKV-projek en kweek vandag steeds ’n liefde vir toneelskepping in Afrikaans, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders. Dit gee leerders soveel geleenthede om by al die aspekte betrokke te raak, van spel, regie, skryf, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie tot bemarking!” gesels hy.
Die projek vind jaarliks landwyd plaas met streeksfeeste en ’n nasionale feesfinaal en daar is jaarliks ongeveer 3 000 leerders daarby betrokke.
JJ sê met ATKV-Tienertoneel word daar weereens gewys watter simbiotiese talent, passie en kreatiwiteit daar in ons land is.
“Die produksies praat hard en duidelik met elke gehoorlid en die stories kruip in die harte van teatergangers in. Dit maak ’n werklike verskil in ons samelewing. Dit was ook vanjaar opvallend dat ATKV-Tienertoneel die platform bied om die taal inklusief te bevorder deurdat ander landstale en selfs internasionale tale saam met Afrikaans op verhoë is. Die passievolle manier waarmee leerders wat Afrikaans as hul derde of selfs vyfde taal beoefen, en dan ook so stories uit hul gemeenskap vertel, was boeiend en inspirerend.”
Tienertoneel gee drome vlerke
Die woord “inspirerend” is een wat baie mense gebruik wat al by die projek betrokke was, en vele kunstenaars is al daardeur geïnspireer om ’n loopbaan van die kunste te maak.
Een daarvan is die gewilde sanger, Jak de Priester, wat in 1994 in matriek in die Hoërskool Parys was.
“Ek het in 1994 ons toneelstuk geskryf. Ek onthou ek het nog ’n penning as beste akteur gewen en ons het ook ’n prys vir die beste nuutgeskrewe stuk gekry. Die skryf van daardie teks het my ook geïnspireer om in die kunste te werk, en vandag skryf ek as sanger my eie songs. Tienertoneel het baie vir my beteken,” vertel Jak.
Aktrise Cintaine Schutte was in die Hoërskool Die Wilgers in Pretoria en was van 2002 tot 2005 op die planke by Tienertoneel.
“Daardie drie jaar was van my lekkerste jare,” onthou Cintaine. “Dit het soveel vir my beteken en dit het die wêreld vir my oopgebreek ten opsigte van toneel en om deel van ’n span te wees en stories te vertel. Dit het my ook in aanraking met mense, soos Shareen Swart, gebring wat vir my ’n mentor was en my soveel in my loopbaan gehelp het.”
Cintaine onthou dat hulle in 2004 by die finaal met die stuk The Sound of Boeremusiek gewen het.
“Ek en een van my baie goeie pelle, Albert Pretorius, was saam daarin te sien en ek het ook in my matriekjaar ’n prys as die mees belowende aktrise gewen.”
Jare later was Cintaine self ook vier jaar lank ’n ATKV-Tienertoneelbeoordelaar.
“Dit was van die beste tye ooit om die streke te besoek en die talent raak te sien. Wat wonderlik is, is dat ek nou ’n klas by die Universiteit Stellenbosch aanbied en dan van daardie kinders as studente voor my sien. Van die tieners wat ook toe op die verhoog was, is nou saam met my in die bedryf. Tienertoneel is ongelooflik belangrik, want dis ’n skatkis vir jong talent in ons land. Die talent wat daar op die planke is, slaan net my asem weg en ek is baie trots daarop dat ek deel daarvan kon wees.”
Nog iemand wat deel van Tienertoneel was en wat vandag steeds daarby betrokke is, is aktrise Lindie Strydom.
“In ons huis is Augustusmaand ATKV-Tienertoneelmaand, want al drie ons kinders was of is nog daarby betrokke. En as ek nou terugdink, was ek ook in ’n Augustusmaand die eerste keer op die Tienertoneelverhoog! Dit was in 1994 toe ek in die Hoërskool Framesby in Gqeberha (toe nog Port Elizabeth) was. Ons het ’n vreeslike oulike Afrikaans-juffrou, Martlie Jordaan, gehad, wat ons vir toneel afgerig het en ek het als van drama by haar geleer: van projeksie tot diksie. Ek onthou in standerd agt (graad 10) het ons Wees op die planke gebring en in 1995 het ek ’n penning by die finaal vir belowende spel in Kinderspeletjies ontvang.”
Lindie vertel sy het al op skool vir almal vertel dat sy nog in Egoli gaan speel en dat sy “daai jong outjie Stephen se meisie gaan speel”.
“Toe sien ek vir Henry Mylne, Egoli se regisseur, by ’n toneelkompetisie en my juffrou druk my vorentoe sodat ek my moet voorstel en ek het vir hom gesê ek sal graag in Egoli wil speel!”
Kort daarna het Lindie hom by Tienertoneel gesien waar Henry ’n beoordelaar was en toe sy hom weer raakloop, het hy vir haar gesê sy kan maar haar CV vir hom stuur. Toe hulle na ’n aktrise vir ’n nuwe karakter, die 18-jarige Namibiese Karin, gesoek het, het sy ’n oudisie gaan doen en die rol gekry.
“Ek het gematrikuleer en in Januarie die volgende jaar by Egoli begin en uiteindelik 12 jaar daar deurgebring. Hoe wonderlik is dit dat ek die geleentheid gehad het om uit ’n gewone skool, wat nie eens drama as vak gehad het nie, op ’n verhoog te kon speel en mense soos ’n Egoli-regisseur kon ontmoet!”
Vandag is dit vir Lindie ’n groot voorreg om haar eie kroos se groei as akteurs op die verhoog dop te hou. Haar oudste, Paul (19), het op skool talle Tienertoneelpryse ingepalm en maak nou naam as jong akteur en die 17-jarige tweeling, Hugo en Nina, is in die Hoërskool Parel Vallei en is jaarliks by Tienertoneel betrokke.
“Paul het op skool sy produksie, Slaansak, vir Tienertoneel se slegs-leerders-produksie geskryf en dit was omtrent iets waarby die hele gesin betrokke was. Hulle al drie het daarin gespeel, Pa het van die verhoogelemente gebou en ek was by die bemarking betrokke! Ons is ook by Parel Vallei met ’n wonderlike regisseur en teksskrywer, Darryl Spijkers, geseënd en hy probeer waarlik vir almal ’n plekkie op die verhoog kry. Daar was omtrent vanjaar 120 kinders by al die produksies betrokke! Hy het juis ter viering van Tienertoneel se 60ste die produksie Boekenjin geskryf, waar 60 kinders op die verhoog verskyn.”
Lindie sê die impak van Tienertoneel kan nie gemeet word nie. “Die kinders werk so hard en speel hul harte uit. Almal van ons word deelnemers in plaas van net toeskouers, of jy nou die ouer is wat laataand vir jou kind sit en wag of die ouer wat ’n kostuum maak. ’n Mens wen soveel met Tienertoneel: Jy wen vriendskappe, jy groei as mens, jy beland in die diep kant, en jy leer om te swem.”
Wat is vanjaar nuut by ATKV-Tienertoneel?
- Die ATKV stel vanjaar tydens die nasionale finaal ook ’n ATKV-agentlys saam en bou vir elke akteur ’n bemarkbare profiel sodat hulle die bedryf met selfvertroue kan ingaan.
- Skole kan ook nou hande vat en saam inskryf sodat meer en minder ervare skole saam hul talent kan slyp.
- Daar word ook vanjaar ’n aanlyn toneelbiblioteek gestig.
- ATKV-DigiToneelfinaliste maak ook hul buiging op televisie met die realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig, waarvan die vierde seisoen in Oktober 2024 op DStv-kanaal 147 (VIA) uitgesaai word.
En in die toekoms?
JJ hoop dat die projek in die toekoms sal aanhou om gehoorontwikkeling vir die teaterbedryf te verseker. “Ons droom dat dit die platform bly om nuwe teatermakers te kweek en vreesloos die teatermedium uit te daag en met nuwe genres en die aanbieding daarvan te ontwikkel. Ons wil aanhou om inklusief geleenthede vir alle leerders, ongeag hul taal en kultuur, te bied en om Afrikaans te bevorder en kreatiwiteit sonder grense te stimuleer.”
Vind hier meer uit. Sien ’n voorskou van die produksies wat deurgedring het na vanjaar se ATKV-Tienertoneelfinaal hieronder.