ATKV-Tienertoneel se nasionale finaliste bekend

Die 58ste ATKV-Tienertoneel was vanjaar dreunend dapper met 3 000 tieners wat hul stories tydens nege streeksfeeste landswyd vertel het.
172 produksies van regoor Suid-Afrika het nie teruggehou om gehore te vermaak nie en die mentorbeoordelaars was weereens verstom oor die gehalte en kreatiwiteit waarmee vandag se tieners teaterproduksies aanpak.
Jacques Bessenger (een van vanjaar se mentorbeoordelaars) meen die hoeveelheid talent wat uit al die verskeie gemeenskappe kom, is verstommend: “Tieners wat uit moeilike omstandighede kom, wat vir die eerste keer op die verhoog is en wat toneel as ontvlugting gebruik, het ’n groot indruk op my gemaak,” sê Jacques en voeg by, “Onderwysers wat alles en nog meer doen om die tieners te ondersteun om op die verhoog te verskyn gee my soveel hoop. Die standaard wat sommige van die produksies daarstel is indrukwekkend. Die vermoë wat die tienerakteurs het om ingewikkelde emosies en konsepte ten toon te stel is ongelooflik.”
ATKV-Tienertoneel se unieke aanbiedingsformaat ontwikkel die jeug se liefde vir toneelspel deurdat elke produksie deur mentorbeoordelaars, wat sterk in die vermaaklikheids- en tersiêre-onderrigbedryf is, na afloop van elke optrede tydens opwindende mentorwerkswinkelsessies saam met die tieners koppe krap oor hul werk.
Vanjaar se mentorbeoordelaars was Marijda Kamper, Mari Molefe van Heerden, Pietie Beyers, Jacques Bessenger, Prof. Marie Heleen Coetzee, Ludwig Binge, Zenobia Kloppers, Wilhelm van der Walt en Solomon Cupido.
Solomon Cupido is van mening dat ATKV-Tienertoneel ’n mens weer lief maak vir teater en gehore op grootskaal ontwikkel: “Dit was baie van die deelnemers se eerste keer op die verhoog en hul ouers se eerste keer in ’n teater!” Solomon sê verder dat hierdie tieners weer die honger in hom wakker gemaak het om na die teater terug te keer. “Ek wil weer op die verhoog klim en my kinders moet vroeër eerder as later by die teater uitkom! Dit is hoe hierdie tieners my inspireer het.”
Met ATKV-Tienertoneel word leerders soveel geleenthede moontlik gegee om by alle aspekte van ’n toneelstuk betrokke te raak, met ander woorde, by die spel, regie, skryf, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie en selfs bemarking!
JJ van Niekerk, ATKV-Tienertoneel-projekorganiseerder, is daarvan oortuig dat die toekoms van die kunste in Suid-Afrika gesond en dreunend dapper is.
“Die egtheid waarmee ons tieners hul rolle vertolk is verstommend. Hulle laat jou anders asemhaal, veral wanneer jy sien hoe hulle niks terughou nie en hul harte op die verhoog agterlaat. Ek is so trots op elkeen van hierdie tieners wat ATKV-Tienertoneel gebruik om nie net in hulself nie, maar ook in die toekoms van ons land te belê. Hulle is onbaatsugtig en is die verskil!”
Die top 10 produksies, asook die twee beste produksies met slegs leerders, word genooi na die nasionale finaal wat tussen 3 en 8 Oktober in die Kunstekaap, Kaapstad plaasvind.
Hierdie finaal gaan gestand doen aan vanjaar se dreunend dapper tema en hope is op die spel.
Die wenproduksie stap vanjaar weg met die ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, R30 000 kontant, ’n speelvak tydens die US Woordfees, asook ’n speelvak tydens die Suidoosterfees.
Die naaswenner en derdeplekwenner gaan ook hul professionele speelvak tydens die Suidoosterfees kry, bo en behalwe die kontantpryse waarmee hulle wegstap.
Totale prysgeld van R75 000 word vanjaar uitgeloof en die beste van die bestes word tydens ’n spogprysuitdeling op 8 Oktober gekroon.
Die top 10 produksies wat na die nasionale finaal deurdring, is as volg:
’n Einde deur Helpmekaar Kollege in Johannesburg
My Hart deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville
Sad girl musiek deur die Hoërskool Eldoraigne in Centurion
Wat die water weet deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
Na ’n ander aarde deur die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
Middernagstad deur die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp
Die Susterskap deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
mAaNmAaTs deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
Die wêreld is ons woning nie deur die Hoërskool Tygerberg in Parow
Ikarus en die sonvanger deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
Die top 2 produksies met slegs leerders wat sake tydens die nasionale finaal moet uitspook, is:
Wie't die ligte afgesit? deur Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch
Oberon deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
Kaartjies vir die ATKV-Tienertoneelfinaal is vanaf Vrydag 9 September by Computicket beskikbaar.
Hou die ATKV se webwerf en sosiale media dop vir meer inligting oor die ATKV-Tienertoneel se nasionale finaal en moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie.