ATKV-Tjokkertoneel-finaliste bekend, reg om staal te wys
Die derde ATKV-Tjokkertoneel het vanjaar tussen die sterre gespeel, met 628 tjokkers wat hul stories tydens vier streeksfeeste landswyd vertel het.
36 produksies van regoor Suid-Afrika het nie op die planke teruggehou nie en die mentorbeoordelaars was weereens verstom oor die groei in gehalte en die kreatiwiteit waarmee vandag se tjokkers mini-tonele aanpak.
ATKV-Tjokkertoneel word gementor deur bekroonde ATKV-Tienertoneel-teatermakers regoor Suid-Afrika, juis omdat deelname aan die gewilde ATKV-Tienertoneel die volgende trappie vir ’n tjokker sal wees.
Vanjaar se mentorbeoordelaars was Marijda Kamper, Schoemé Steenkamp, Darryl Spijkers, Kanya Viljoen, Linda van Niekerk en Johann Smith.
Die doel van ATKV-Tjokkertoneel is die skep van ’n nasionale platform vir talentontwikkeling ter viering en opbou van laerskoolleerders deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aan te moedig. Met ATKV-Tjokkertoneel stel ons jong leerders bloot aan teaterkuns en drama deur middel van mini-tonele.
JJ van Niekerk, ATKV-Tjokkertoneel-projekorganiseerder, is daarvan oortuig dat die toekoms van die tjokkers blink en dat die passie waarmee hulle hierdie projek aanpak ’n goeie dosis kreatiwiteit en ’n wending in die ATKV-Tienertoneelprojek teweeg gaan bring.
“Die ATKV se toneelaanbod word nóg sterker deur die talent wat nou reeds op tjokkervlak ontgin word. Die ATKV het nog altyd ten doel om deur opleiding en ontwikkeling die kunste in ons land sterk en gesond te hou. Die deurdagte prosesse wat deur die ATKV en sy mentors geïmplementeer word, sorg vir grenslose gehoorontwikkeling, talentontginning en die volhoubare daarstelling van ’n groeiende industrie in die kunste, wat die redding is vir sosiale en kulturele ontwikkeling in Suid-Afrika.”
Die top-6-tjokkerproduksies word genooi na die nasionale finaal, wat tussen 3 en 5 Oktober in die Lyric-teater by Gold Reef City in Johannesburg plaasvind.
Hierdie finaal gaan vanjaar se tjokkergeesdrif gestand doen en R10 000 is op die spel vir die wenproduksie.
Die top-6-tjokkerproduksies wat na die nasionale finaal deurdring, is as volg:
– Woudwonde deur die Laerskool Roodekrans in Krugersdorp
– Die Moordenaar in Laerskool Kloofsig deur die Laerskool Roodekrans in Krugersdorp
– AGT deur die Curro Durbanville Laerskool in Durbanville
– Drome sonder some deur die Beaumont Primary School in Somerset-Wes
– Graad 7 suck!!! deur die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman in Hartbeespoort
– Diepgrawers deur die Voorbereidingskool Fanie Malan in Upington
Kaartjies vir die ATKV-Tjokkertoneel-finaal is vanaf Woensdag 6 September by Webtickets beskikbaar.
Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor die ATKV-Tjokkertoneel se finaal en moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie!