ATKV-Tjokkertoneel: Jongspan ontdek stemme op verhoog
ATKV-Tjokkertoneel is tot stand gebring as ’n nasionale platform om Suid-Afrika se laerskooldramatalent te ontdek en te ontgin en sodoende die kunste in ons land te bevorder. Deur die wonderwêreld van toneelspel te betree, word tjokkers nie net op die dramafront bemagtig nie. Hulle leer ook waardevolle lewenslesse en -vaardighede wat hulle op die pad na huidige én toekomstige sukses plaas.
Vanjaar was geen uitsondering nie. Die topses-Tjokkerproduksies uit 50 produksies van regoor Suid-Afrika het aan die Simbiose-finaal in Kaapstad deelgeneem.
‘Bondels jong energie’
“Die standaard van ATKV-Tjokkertoneel het ongetwyfeld vanaf 2023 tot 2024 met 200% verbeter,” sê JJ van Niekerk, ATKV-Tjokkertoneelprojekorganiseerder.
Vir elke vraag oor die evolusie en opwinding van ATKV-Tjokkertoneel het JJ ’n insiggewende, inspirerende antwoord …
1. Hoe vergelyk 2024 se kompetisie met verlede jaar s’n?
Dit was wonderlik om te sien hoe die jongspan hul voete en style vind. Regisseurs en skrywers verstaan ook toenemend wat ’n mini-toneel in Tjokkerformaat is, so hulle skep toneelstukke wat gepas is vir tjokkers en hul verwysingswêreld.
In al die produksies was die leefwêreld van tjokkers vanjaar pertinent op die voorgrond, met temas wat die spektrum dek van familie- en gesinsamelewing, identiteit en respek, tot ouderdomsverwante uitdagings binne belangstellingsvelde soos die natuur asook sport-, skool- en kultuurkodes.
2. Wat was vanjaar se hoogtepunte?
Tjokkers begin hul stemme ontdek en hulle speel nou lekker sonder vrees. Dit was ’n plesier om te sien hoe hulle met alle aspekte van teater-maak eksperimenteer en met hoeveel gemak hulle dit bemeester. Hul geloofwaardige vertolking van stories uit hul spesifieke verwysingsraamwerk was ook verstommend.
Dit is verfrissend om ná ’n Tjokkertoneelproduksie die spieël op te hou … Tjokkers is nie huppelende kabouters tussen blommetjies en bytjies nie. Hulle is bondels jong energie wat sinvol en met baie passie die wêreld pak met ’n doel om ’n verskil te maak.
3. Wat was die grootste uitdagings vir die regisseurs en die akteurs?
Die uitdaging bly altyd om geloofwaardige spel te ontwikkel en aan te bied in die teatermedium waar die gehoor ingenooi word om verlore te raak en begrip en empatie vir ’n verskeidenheid karakters te ontwikkel. Tjokkertoneelregisseurs werk per definisie met jong amateurs wat meestal nog alles moet leer – van hul woorde tot toneelwisselings – en in daardie opsig is die grootste uitdaging dat tjokkers sowel as regisseurs ongekende terrein vreesloos betree.
4. Watter lewenslesse leer kinders deur toneelspel?
Selfdissipline en empatie vir ander mense, kulture en gemeenskappe is beslis die grootste lewenslesse wat ons tjokkers deur ATKV-Tjokkertoneel baasraak. Dit is ook belangrik dat hulle die vermoë ontwikkel om werklik te luister.
5. Watter lesse het jy al by die aspirantaktrises en -akteurs geleer?
ATKV-tjokkers leer my elke jaar om vreesloos te wees en dat passie die dryfveer kan wees om doelwitte en ideale te bereik. Ek ontdek opnuut dat alles in die lewe nie perfek hoef te wees nie, veral as liefde die motivering vir al jou aksies is. My mening word ook al sterker dat passievolle amateurs wat hul nuwe idees, nuwe style en nuwe konsepte sonder reëls uitleef, die werklike rigtingaangewer in hierdie spesifieke kreatiewe industrie is.
6. Watter boodskap het jy vir deelnemers wat nie pryse verower het nie?
’n Prys en ’n beker is lekker om te ontvang, maar dit het baie minder waarde as die ervaring en vaardighede wat jy deur jou deelname aanleer. Hierdie kennis en die onthou-oomblikke saam met jou Tjokker-teaterfamilie gaan vir jou dividende lewer tot die dag wat jy jou laaste asem uitblaas.