ATKV-Tjokkertoneel: Nasionale finaliste is bekend!
Van 60 stories wat regoor Suid-Afrika asemgehaal het, bly daar nou ses oor wat hul volgende groot asemteug op een van die land se bekendste verhoë gaan neem.
Die ses nasionale finaliste van die sesde ATKV-Tjokkertoneel is aangekondig en word genooi om op 2 Oktober 2026 tydens die ATKV-toneelaanbod se nasionale finaal in die Kunstekaap in Kaapstad op te tree.
Vanjaar het ’n indrukwekkende 1 325 tjokkers in 60 produksies aan streeksfeeste in Gauteng, Bloemfontein en die Wes-Kaap deelgeneem. Van eerste verhoogtreë en groot verbeeldingswêrelde tot humor, avontuur en stories met verrassende emosionele diepte het die jong kunstenaars gewys waarom Tjokkertoneel ná ses jaar reeds ’n belangrike groeiplek vir ’n nuwe generasie teatermakers geword het.
Nou haal ses van dié stories weer asem.
Die nasionale finaliste (in alfabetiese volgorde) is:
• A++ – Laerskool Durbanville
’n Tong‑in‑die‑kies‑komedie wat die wêreld van kultuuraande, kompetisies en drama‑mammas met heerlike oorgawe aanpak. Wanneer die skaam Elizabeth teen haar sin in die kollig gestoot word, begin ego’s bots en ruk die soeke na die gesogte Mozart Monoloog‑wisseltrofee behoorlik handuit.
• Dagdromer – Laerskool Roodekrans
Wanneer Luna, ’n kreatiewe dagdromer wat sukkel om in te pas, na die magiese Planeet Fantasarieë vervoer word, vervaag die grens tussen droom en werklikheid. Dit word ’n fantasie‑avontuur oor verbeelding, selfontdekking en die moontlikheid dat drome juis kan help om die werklikheid te verander.
• Die Neonkas – Laerskool Roodekrans
’n Geheimsinnige verdwyning, vreemde portale, kunsmatige intelligensie en ’n retro-videospeletjiewêreld stuur ’n groep vriende op ’n wilde avontuur. Met ’n stewige skoot 80’s-nostalgie vier Die Neonkas uiteindelik vriendskap, moed en die krag daarvan om op mekaar te kan staatmaak.
• Hart – Laerskool Bastion
In ’n wêreld waar emosies, drome en verbeelding verban is, neem ’n groep kinders en ’n ou robot ’n koue KI-regering aan. Hul wapen? Die een ding wat tegnologie nie kan vervang nie: die krag van die menslike hart.
• Om te onthou – Laerskool Helderkruin
Sonika word sonder herinneringe in ’n grot vol vreemde kreature wakker. Terwyl sommige haar probeer help onthou en ander die waarheid wil begrawe, ontwikkel ’n fantasiedrama oor hoop, vrees en die moed wat dit soms verg om die verlede in die oë te kyk.
• UIL – Laerskool Beaumont
Onder ’n jakarandaboom in ’n klein Overbergse dorpie vind twee meisies mekaar tussen stiltes, sterre en die dinge waaroor grootmense nie praat nie. ’n Intieme verhaal oor vriendskap, verlies en die dinge wat ons saam met ons dra.
Meer as ’n kompetisie
Deur die hele streeksseisoen is ATKV-Tjokkertoneel se ontwikkelingsfokus versterk deur Kanya Viljoen, Liezl de Kock, Marijda Kamper, Karli Heine, Bianca Flanders en Jacques Bessenger, wat as mentorbeoordelaars opgetree het.
Elke produksie ontvang pasgemaakte stemnotas van die mentors – terugvoer wat nie net ’n oordeel oor ’n optrede gee nie, maar jong kunstenaars en hul onderwysers aanmoedig om verder te leer, te speel en nuwe moontlikhede te ontdek.
Want uiteindelik gaan ATKV-Tjokkertoneel oor veel meer as die ses produksies wat nou na Kaapstad reis. Dit gaan oor 1 325 jongmense wat vanjaar die moed gehad het om diep asem te haal, ’n verhoog te betree en ’n storie te vertel.
Vir ses produksies wag daar nou nóg een asemteug.
Die ATKV-Tjokkertoneel nasionale finaal vind op 2 Oktober 2026 in die Kunstekaap, Kaapstad, plaas. Kaartjies sal vanaf 9 September via Webtickets en by die Kunstekaap-kaartjiekantoor beskikbaar wees.
Besoek www.asem.in vanaf 9 September vir die volledige nasionale finaalprogram en verdere besonderhede.
Ses stories. Een nasionale verhoog. Kom haal saam asem.