ATKV-Toneel 2026: Die verhoog haal asem!
Vir 62 jaar al gee ATKV-Tienertoneel jong storievertellers die geleentheid om diep asem te haal voordat hulle die verhoog hul eie maak. Daardie enkele oomblik net voordat die ligte opwarm, die gehoor stil raak en die eerste woord weerklink, is waar moed, verbeelding en stories ontmoet. Dit is ook die hart van die ATKV-Toneelaanbod 2026, wat vanjaar onder die inspirerende tema, “ASEM”, deelnemers, mentors en gehore van regoor Suid-Afrika saambring om die krag van Afrikaanse teater te vier.
Vanjaar vier ATKV-Tienertoneel sy 62ste bestaansjaar, terwyl ATKV-Tjokkertoneel reeds sy sesde seisoen aanpak. Saam met 14 ATKV-Sêr-produksies en meer as 300 Sêr-deelnemers vorm hulle deel van een van die grootste toneelaanbiedinge nóg. Altesaam sal 4 895 deelnemers in 265 produksies gedurende die winter hul stories in teaters regoor Suid-Afrika vertel.
Maar die ATKV-Toneelaanbod gaan oor veel meer as optredes en applous. Dit gaan oor stories wat mense nader aan mekaar bring. Dit gaan oor jong kunstenaars wat hul stem ontdek. Dit gaan oor gehore wat saam lag, saam huil en saam anders begin kyk. Dit gaan oor die asem wat teater aan gemeenskappe gee.
Van 22 Julie tot 29 Augustus word verhoogteaters regoor Suid-Afrika gevul met oorspronklike stories, vars perspektiewe en onvergeetlike verhoogoomblikke.
ATKV-Tienertoneel
23 Julie-29 Augustus
- Playhouse-teater, Durban
- Unisa-kleinteater, Pretoria
- Wynand Mouton-teater, Bloemfontein
- Mandela-teaterkompleks, Gqeberha
- Pam Golding Baxter-teater, Rondebosch
ATKV-Tjokkertoneel
22 Julie-19 Augustus
- Unisa-kleinteater, Pretoria
- Wynand Mouton-teater, Bloemfontein
- Pam Golding Baxter-teater, Rondebosch
ATKV-Sêr
25 Julie-29 Augustus
Vir die derde agtereenvolgende jaar vorm ATKV-Sêr deel van die ATKV-Tienertoneel-streeksfeesfinale, waar gehore die geleentheid kry om uitsonderlike toneel- én sêr-produksies op een program te beleef. Vanjaar is Sêr verteenwoordig tydens al die nasionale streke waar die toneelaanbod lewe kry – nog ’n belangrike mylpaal in die groei van hierdie dinamiese afdeling van die toneelaanbod.
Wat die ATKV-Toneelaanbod werklik onderskei, is sy fokus op ontwikkeling. Elke Tienertoneelproduksie word gevolg deur deeglike mentorsessies waarin deelnemers saam met ervare teaterpraktisyns terugkyk op hul kreatiewe proses, nuwe perspektiewe ontdek en praktiese leiding ontvang. By ATKV-Tjokkertoneel en ATKV-Sêr word dieselfde mentorfilosofie voortgesit deur pasgemaakte stemnotas wat spesiaal vir elke produksie saamgestel word – waardevolle terugvoer waarna deelnemers en onderwysers lank ná die fees kan terugkeer.
Vanjaar word deelnemers begelei deur 11 gerespekteerde mentorbeoordelaars, wie se ervaring en passie vir die uitvoerende kunste help om nie net jong kunstenaars te ontwikkel nie, maar ook nuwe gehore vir Afrikaanse teater te inspireer. Hul begeleiding bevestig die ATKV-Toneelaanbod se verbintenis tot mentorskap, gehalte, gehoorontwikkeling en die vestiging van ’n lewenslange liefde vir teater.
Vir die eerste keer word die volledige toneelaanbod op een digitale platform saamgebring. By www.asem.in kan deelnemers, onderwysers, ouers en gehore programme, skedules, kaartjies, produksie-inligting, feesnuus en uitslae op een plek vind. Die platform maak dit makliker as ooit om deel te word van ’n toneelseisoen waar stories, talent en gemeenskappe saam asemhaal.
Vanjaar wag daar nie net uitstekende teater nie. Daar wag stories wat jou laat lag; stories wat jou laat nadink; stories wat jou lank ná die laaste applous bybly.
Ontdek die volledige program, bespreek jou kaartjies en wees deel van die ATKV-Toneelaanbod 2026 by www.asem.in.