ATKV-Toneeluitblinkers skitter in ‘Reënboogrant’
Wanneer die ligte op ’n ATKV-Toneelverhoog skyn en die blosende wange van jong talent verhelder, weet elke deelnemer dat hulle tuis is op die plek waar jy sorgloos kan droom, want eendag sal daardie droom vlerke kry en oor ’n reënboogrant vlieg na ’n pot vol geleenthede.
Dit is geen wolhaarstorie dat die ATKV se toneelaanbod die eerste stop is vir produksiehuise en vervaardigers wanneer opwindende nuwe talent gesoek word om produksies na jou skerm of professionele verhoog te bring nie.
Reënboogrant is Showmax se nuutste telenovelle en dié produksie se hoofrolverdeling skitter met ATKV-Toneeluitblinkers.
Die telenovelle is gegrond op die gelyknamige boeke deur Louise van Niekerk en vertel die storie van sussies Shani en Sunette Brink, hul ouer broer, Dolf, en dié lot se kaperjolle. Die reeks beloof om, soos die boeke van ouds, ’n wipwarit van tienerdrama, familiekonflik, liefde, aspirasies en spanning te bied.
Minke Marais speel Shani Brink, ’n graad 10-leerder en rasieleier met ’n brandende passie vir die kunste. Sy het groot drome van Hollywood en die roem wat daarmee gepaardgaan.
Minke Marais het in 2019 tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal die toekenning vir die beste aktrise in ’n hoofrol ontvang vir haar spel in die produksie Waterbrief deur die Hoërskool Noordheuwel.
Dolf (Paul Strydom) is in matriek en is die Hoërskool Reënboogrant se hoofseun. Wanneer ons dié goue seun ontmoet, is hy laf-verlief op Rachelle (Marelee Ferreira), wie se afwesige ouers beslis nie weet van haar kleptomaniese gewoontes en manipulerende gedrag nie.
Paul Strydom was in 2022 en 2023 in die Hoërskool Parel Vallei en is gekroon as die beste akteur in ’n hoofrol tydens die nasionale finaal van daardie jare se ATKV-Tienertoneel vir sy spel in die produksies mAaNmAaTs en Wegwêreld. Paul se eie produksie Slaansak (wat volledig op die planke gebring is deur die leerders wat daarby betrokke was) is in 2023 as die beste slegs-leerders-produksie aangewys. Hy is ook aangewys as een van die topagt- nasionale finaliste van ATKV-DigiToneel en het sy verskyning in die derde seisoen van Gekies vir die Kollig gemaak.
Marelee Ferreira was gister nog op die skoolbanke en het as nasionale wenner van ATKV-DigiToneel 2024 weggestap. Sy het sedert 2020 aan hierdie kompetisie deelgeneem en haar stempel afgedruk in die vierde seisoen van Gekies vir die Kollig, toe sy as wenner gekroon is.
Pierre (Xander Ferreira) is een van Dolf se beste vriende wat ook saam met hom rugby speel.
Ook in die rugbyspan is hul vriend Johan (Righard van Jaarsveld). Johan gaan al ’n hele rukkie met Shani uit en ondersteun haar drome, al beteken dit dat hy dikwels opofferinge moet maak.
Xander en Righard het albei hul talent tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal in 2018 by die Roodepoort-teater gewys.
Xander Ferreira was toe ’n passievolle akteur in die produksie Ink van die Hoërskool Louis Trichardt.
Righard van Jaarsveld het in die produksie GesertifiSEER van die Helpmekaar Kollege die kollig gesteel.
Dan is daar ook die stil en geheimsinnige Jacques Bronkhorst (Vian Singleton). Niemand weet veel van hom nie en daar is baie skinderstories oor sy troebel verlede.
Vian Singleton (ook ’n oudleerder van die Helpmekaar Kollege) is in 2022 tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal vir sy rol in ’n Einde as die beste akteur in ’n hoofrol by die ATKV-Toneelfinaal in die Kunstekaap bekroon.
Die ATKV is uiters trots op elkeen van hierdie akteurs wat hul drome najaag om die verskil te wees. Hierdie talentvolle toneelspelers is ’n bewys dat jy net die verskil kan wees as jy in jouself in jou toekoms belê.
Die inskrywings vir vanjaar se algehele ATKV-toneelaanbod is oop en gereed om jou drome oor die rand van die reënboog vlerke te gee.
Besoek https://atkv.org.za/neem-deel/ en lees meer oor ATKV-Tienertoneel, ATKV-Tjokkertoneel, ATKV-Sêr en ATKV-DigiToneel en vind uit hoe hierdie kompetisies jou liefde vir die vermaakindustrie sal laat blom en jou dalk net ’n voet in die deur kan gee.
Dubbelepisodes van Reënboogrant word elke Woensdag vanaf 15 Januarie 2025 tot en met 11 Junie 2025 op Showmax beskikbaar gestel.
Reënboogrant word ook vanaf Vrydag 17 Januarie 2025 om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 101) en DStv Stream uitgesaai, maar met slegs een nuwe episode per week.
Kyk hieronder na die lokprent.