ATKV vereer Willie Koorts vir ’n leeftyd se sterre en stories
Vir byna drie dekades het Willie Koorts mense op busse, oor Karoodorpe en uiteindelik tot onder die sterrehemel van Sutherland geneem. Hy het hulle vertel van spoorlyne, teleskope, ou motors, plase, geologie en die geskiedenis van die Karoo. Maar meer as dit het hy hulle geleer om op te kyk.
Hierdie besondere nalatenskap is by die SMUL-restaurant op Diemersfontein buite Wellington gevier toe Willie met ’n ATKV-Oorkonde vereer is vir sy jarelange bydrae tot die bevordering van sterrekunde, sy liefde vir Afrikaans en sy betrokkenheid by die ATKV.
Die oorkonde is deur Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, aan hom oorhandig tydens ’n funksie waar vriende, mede-ATKV-lede, bewonderaars en mense wat oor baie jare saam met hom gereis het, hulde aan hom gebring het.
Willie se belangstelling in wat bo én rondom hom gebeur, loop soos ’n goue draad deur sy lewe. “Ek wou my lewe lank weet wat om my aangaan,” het hy sy eenvoudige filosofie opgesom.
Dié nuuskierigheid sou hom uiteindelik diep in die Suid-Afrikaanse sterrekundewêreld neem. Hy was onder meer by sterrewagwerk en teleskoopinstrumentasie betrokke en het ’n rol gespeel by die eerste vier groot teleskope en later ook SALT (Southern African Large Telescope).
Vir RSG-luisteraars is sy stem al jare lank sinoniem met die hemelruim. Sedert 2009 is hy as ankeraanbieder aan die program Sterre en Planete verbonde, waar hy ingewikkelde astronomiese verskynsels toeganklik en in Afrikaans aan luisteraars verduidelik.
“Dit is daarom vir ons by die ATKV ’n besondere voorreg om eer te gee aan Willie Koorts – iemand wat ons telkens met nuwe oë na die hemel laat kyk,” het Almero Oosthuizen, ATKV-streeksbestuurder, gesê.
Willie se verbintenis met die ATKV strek veel verder terug. Hy was ’n stigterslid van die ATKV-tak Wellington wat in 1998 tot stand gekom het, en het vir dekades die jaarlikse bustoer na Sutherland help vorm.
Tharina Schweidler, voorsitter van die ATKV-tak Wellington, vertel dat daar oor die jare 28 bustoere aangebied is.
Elke Augustus het ’n groep per bus na Sutherland gereis. Die hotel en gastehuise is vooraf bespreek, daar is by Matjiesfontein gestop en die sterrewag is besoek – soms selfs met sneeu as agtergrond. Maar die reis was nooit net ’n toerprogram nie. Dit het ’n gemeenskap geword.
Op pad terug is gedigte wat gedurende die naweek geskryf is op die bus voorgelees en pryse is toegeken. Met die verloop van die jare het die verse, stories en foto’s begin ophoop.
“Ons het altyd gewonder wat met die gedigte en prosa gebeur,” het Willie gesê. “Dit is wonderlik dat dit nou in boekvorm bestaan.”
Juis daarom was die funksie ook die ideale geleentheid vir die bekendstelling van Afrikaanse Voetspore na Sutherland, ’n koffietafelboek waarin dié herinneringe uiteindelik ’n permanente tuiste gekry het.
Willie was die eerste ontvanger van ’n eksemplaar en het ook boeke tydens die geleentheid geteken.
Schweidler het verduidelik dat die idee ontstaan het toe sy besef hoeveel materiaal oor die jare versamel is.
“Daar was ’n digkompetisie met ’n wenner en die gedigte het begin opstapel. Ek het gedink ons moet dit in boekvorm uitgee. Ons het dit gekombineer met van die mooiste foto’s van Sutherland.”
Die resultaat is ’n boek vol verhale uit hart en siel: oor die koue, die busreise, die rooi bus, dorpe, spoke, spoorlyne, ou motors en natuurlik die onvergeetlike oomblikke wanneer teleskope mense vir die eerste keer diep die heelal laat inkyk het.
Vir Sonél illustreer die projek presies wat die ATKV se takke op grondvlak vermag. “Dit is altyd ’n riem onder die hart om te sien hoe die platform van die ATKV in aksie bly – waar mense met gedeelde belangstellings bymekaar kom en hul talente en kennis met oorgawe en toewyding deel,” het sy gesê.
Die Bosman Adama-koor uit die omgewing het verdere warmte aan die aand verleen met musiekitems soos “Aan die einde van die reënboog”, “Blou” en ander seëngebede.
Willie het die huldeblyk met kenmerkende nederigheid ontvang.
“Baie, baie dankie. Dit is ’n wonderlike gebaar en ek waardeer dit ongelooflik.”
Die Sutherland-toere het uiteindelik om logistieke redes tot ’n einde gekom, maar soos die nuwe boek wys, het die stories nie verdwyn nie. En Willie herinner ons elke week om ons koppe op te lig en met verwondering na die hemelruim te kyk.