ATKV vier leesbevordering
Die ATKV-Kinderboektoekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het, te bekroon.
Die beoordelaars is jong lesers self, iets wat hierdie toekennings van ander onderskei.
Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gerig om kinders te laat lees en leesbevordering aan te moedig. Terselftertyd word erkenning verleen aan skrywers, uitgewers en illustreerders vir hulle toegewyde werk.
Jong lesers se keuses vir die beste kinderboeke van die jaar is soos volg:
Voorleeskategorie: Graad RR – 1
- Skrywer: Zuléka Smit (LUCA) – Ben en die groot toets
- Illustreerder: Johann Strauss (LUCA) – Ben en die groot toets
Selfleeskategorie: Graad 2 – 3
- Skrywer: Riana Scheepers (LAPA Uitgewers) – Saartjie die spinnekop met sewe bene
- Illustreerder: Elsabé Ebersöhn (LAPA Uitgewers) – Saartjie die spinnekop met sewe bene
Selfleeskategorie: Graad 4 – 5
- Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Ouma Mollie gaan terug skool toe
- Illustreerder: Johann Strauss (LAPA Uitgewers) – Ouma Mollie gaan terug skool toe
Selfleeskategorie: Graad 6 – 7
- Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Vroteier
Selfleeskategorie: Graad 8 – 9
- Skrywer: Fanie Viljoen (LAPA Uitgewers) – Krag
Vanjaar gaan die ATKV se Toekenning vir Leesbevordering aan Christina Simelane, ’n onderwyseres van Mpumalanga en stigter van Raise a Reader Platform.
“No man has a right to bring up children without surrounding them with books” – Horace Mann
Christina Simelane het haar daartoe verbind om ’n biblioteek in Daantjie buite Mbombela tot stand te bring. Daar is geen openbare biblioteek in hierdie area nie.
“’n Biblioteek kan ook ’n veiliger studie-opsie bied aan leerders,” sê Simelane, wat onbaatsugtig bydra tot die ontwikkeling van haar landelike gemeenskap.
Die biblioteek gaan vernoem word na die 16-jarige Nomthandazo Mbatha, wat een aand in 2019 tragies vermoor is toe sy op pad was na ’n vriend vir ’n studiesessie.
Daantjie is ’n vinnig groeiende landelike gemeenskap, en Simelane het in 2013 op die gedagte gekom om ’n gemeenskapsbiblioteek te bou. Sy het sedertdien 2 500 boeke bymekaargemaak. Die biblioteek sal ook as ’n leer- en navorsingsentrum vir leerders dien sowel as ’n vaardigheidsontwikkelingsentrum vir die gemeenskap.
Die gemeenskap sal toegang tot inligting hê en hulle sal ook die internet gratis kan gebruik.
“Nomthandazo se dood was ’n wekroep. Dit het my aangespoor om met veiligheidsoplossings vir ons kinders, veral die meisies, vorendag te kom,” sê Simelane, wat met ’n fondsinsameling begin het sodat bouwerk aan die biblioteek kan afskop en meer boeke ingesamel kan word.
Enige geldelike skenkings of boeke, boumateriaal, rekenaars of meubels, en bydraes vir water en elektrisiteit sal waardeer word.
Intussen sit Simelane nie stil nie en bied sy leesprogramme by die plaaslike skole aan en daar is ’n boektrollie waar leerders boeke kan uitneem. Sy is verbind daartoe om geletterheid by leerders te bevorder en vir hulle toegang tot boeke te gee. Sy het ook ’n voedingskema wat aanvullend en ondersteunend tot die Raise a Reader Platform funksioneer.
Op 18 September word die wenners van die Prys vir Liefdesroman en Prys vir Romanses aangekondig.