ATKV weer betrokke by Klein Karoo Klassique

As jy lief is vir klassieke musiek, heerlike kos, pragtige kuns en goeie wyn, is Oudtshoorn die plek om later vandeesweek te wees, want dis weer tyd vir Klein Karoo Klassique. Dié fees, wat hierdie Donderdag (3 Augustus) begin en duur tot Sondag 6 Augustus, word vanjaar vir die 14de keer aangebied, en die ATKV is saam met die Rupert-musiekstigting een van die hoofborge.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê die hoofdoel van die organisasie se betrokkenheid is die bevordering van klassieke musiek en die uitvoerende kunste in Suid-Afrika. “Klein Karoo Klassique is ’n uitstekende geleentheid waar die ATKV en strategiese vennote klassieke musiek op ’n trots Suid-Afrikaanse manier kan vier. Ons ondersteun graag hierdie unieke platform omdat ons groot waarde heg aan strategiese vennootskappe met diegene wat tot klassieke musiek en musici se voordeel dink, belê, werk en droom.”
Volgens Lemmer bied Klein Karoo Klassique die ideale platform vir die ATKV om sy missie uit te leef om proaktief en op ’n volhoubare wyse om te sien na die diverse kunsbehoeftes van die Suid-Afrikaanse gemeenskap. “Dit gaan boonop oor veel meer as net klassieke musiek, en bied aan feesgangers ’n unieke bymekaarkomplek in die Klein-Karoo, met ’n onvergeetlike kultuurervaring wat ook die visuele kuns, letterkunde en kos- en wynervarings insluit.”
Die ATKV is al sedert 2010 by Klein Karoo Klassique betrokke as borg, en hulle is vanjaar nie net by die fees nie, maar ook by twee spesifieke produksies betrokke. “Dis vir ons ’n eer om ook die Suid-Kaap Kinderkoor se produksie ’n Karoonag – met Coenie de Villiers en twee soprane van die Kaapstad Opera – en die ATKV-Galakonsert, waartydens vier soliste van die Kaapstad Opera optree, te borg. Albei produksies beloof om uitstekende toonvensters te wees van Suid-Afrika se wêreldklas-musiektalent,” aldus Lemmer.
Die veelbekroonde en immergewilde Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, sal Vrydagaand 4 Augustus om 19:00 sorg vir ’n onvergeetlike aand van musiek saam met die musieklegende Coenie de Villiers, wat sy twee treffers “Katedraal” en “Karoonag” sal sing. Twee soprane van die Kaapstad Opera, Alida Scheepers en Brittany Smith, sal ook saam met die koor optree. Scheepers sal Le Roux Marais se “Heimwee” sing, terwyl die gehoor kan uitsien na Smith se vertolking van Mozart se “Laudate Dominum”. Die res van die konsert beloof iets vir elke musieksmaak.
Die ATKV-Galakonsert vind op Saterdag 5 Augustus om 19:00 plaas. Die gehoor kan uitsien na drie soliste van die Kaapstad Opera, Afrika se voorste operageselskap. Die bekroonde operasangers Brittany Smith (sopraan), Lukhanyo Moyake (tenoor) en Conroy Scott (bariton) en die opkomende jong sopraan Alida Scheepers word begelei deur José Dias in ’n program vol tydlose hoogtepunte uit die beroemdste operas en musiekblyspele.
Die res van die feesprogram beloof ’n reeks ervarings met musiek deur van Suid-Afrika se voorste klassieke musici (wat musiekuitvoerings sowel as gesprekke met die kunstenaars insluit), asook boekgesprekke, kunsuitstallings, ’n historiese wandeltoer en heerlike kos- en wynervarings.
Daar is drie geleenthede waar feesgangers van naderby kan kennis maak met skrywers en hul werk. Die gevierde skrywer Tom Dreyer sal praat oor sy poësiedebuut, Nou in infrarooi (4 Augustus om 12:30), Wisani Mushwana gesels oor sy eerste roman, A Soft Landing (5 Augustus om 12:30), en Nicole Jaekel Strauss sluit die program af met ’n oorsig van haar roman, Deelfontein (6 Augustus om 12:30). Hierdie en ander boeke sal ook te koop wees by die Boekeparadys.
Verskeie visuele kunstenaars uit die Klein Karoo stal hul werke uit as deel van die fees se saamgestelde visuele kunsuitstalling getiteld Earth has Music for those who Listen. Die plaaslike kunstenaar Janet Dixon is die kurator van dié viering van die komplekse verhouding tussen natuur en musiek vanuit ’n Klein-Karoo-perspektief. Kunswerke van gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein-Karoo sal uitgestal word.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay, of die KKNK-kantoor, en word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid.