ATKV weer ’n hoofborg van Klein Karoo Klassique
Diegene wat ’n liefde vir klassieke musiek, heerlike kos, pragtige kuns en goeie wyn koester, moet gereed maak om hierdie week na Oudtshoorn te reis om hulle in die Klein Karoo Klassique-fees te verlustig. Dié fees, wat Donderdag (9 Augustus) begin en tot Sondag 11 Augustus duur, word vanjaar vir die 15de keer aangebied. Die ATKV is saam met die Rupert-musiekstigting een van die hoofborge.
Klein Karoo Klassique is ’n hoogtepunt op die klassieke musiekkalender en Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, verduidelik hoekom die ATKV weer betrokke is.
“Klassieke musiek is fundamenteel tot ons bestaan. Dit verryk en inspireer ons, terwyl dit kreatiwiteit bevorder en gemeenskappe verenig,” sê Gerrie.
“Klein Karoo Klassique is ’n uitstekende geleentheid waar die ATKV en strategiese vennote klassieke musiek op ’n trots Suid-Afrikaanse manier kan vier.
“Ons hoop is dat ons ondersteuning die verskillende voordele wat klassieke musiek oor die algemeen inhou, sal beklemtoon.”
’n Propvol program lê vir musiekliefhebbers voor.
“Die ATKV is nie regstreeks by die samestalling van die program betrokke nie, ons laat dit in die bekwame hande van Kunste Onbeperk en dr. Charl du Plessis,” sê Gerrie.
“Klein Karoo Klassique gaan oor veel meer as net klassieke musiek en bied aan feesgangers ’n unieke bymekaarkomplek in die Klein-Karoo, met ’n onvergeetlike kultuurervaring wat ook die visuele kuns, letterkunde en kos- en wynervarings insluit.”
Die ATKV het oor die jare kompetisies soos Muziq en Muziqanto aangebied en die pianis Megan-Geoffrey Prins, een van die vorige wenners van Muziq, is ook vanjaar by Klein Karoo Klassique te sien. Die ATKV help al lank om kunstenaars soos Megan se drome waar te maak en vir hulle ’n platform te skep.
“Die ATKV streef daarna om deur projekte soos Muziq en Muziqanto eerstens ’n platform aan jong musici te bied om hulle talente uit te leef, maar meer nog om in elke persoon wat ’n passie vir klassieke musiek het, te belê,” sê Gerrie.
“As ek terugdink aan die emosie op Megan se gesig, die entosiasme waarmee hy die klavier gespeel het en die fantastiese loopbaan wat hy sedertdien vir homself gebou het, dink ek ons het dit reggekry om ’n volhoubare platform daar te stel om jong musici se talente te ontdek en te ontgin.
“Die ATKV glo dat wanneer ons deur ons vele projekte in iemand se toekoms belê, ons daardie deelnemer toerus om van hul loopbaan ’n sukses te maak.”
Navorsing toon dat jongmense deesdae veral op YouTube al hoe meer na klassieke musiek luister. Die ATKV probeer van sy kant af ook verseker dat jongmense aan klassieke musiek blootgestel word.
“Ons sal altyd op klassiekemusiekfeeste ’n gemeenskapsontwikkelingsprojek en ’n program vir jongmense aanbied,” sê Gerrie.
“Kunste Onbeperk en die ATKV sal op vanjaar se Klein Karoo Klassique Little Maestros klassieke konserte vir die kleinspan bekendstel, wat gesinsvriendelike klassiekemusiekkonserte behels. Hiermee word kinders van ’n klassiekemusiekuitvoering deelgemaak en op dié manier verseker ons dat jong gesinne op ’n prettige manier aan klassieke musiek blootgestel word.”
Gerrie sê die galakonsert, wat vanjaar op 10 Augustus sal plaasvind, is elke jaar ’n hoogtepunt van Klein Karoo Klassique.
“Ek kan uiteraard ook nie wag om te sien wat die jongspan by Little Maestros vermag nie,” voeg Gerrie by.
Gerrie bied ’n paar ander redes hoekom mense Klein Karoo Klassique moet bywoon.
“Mense is bekommerd en moedeloos. Die meeste Suid-Afrikaners het ’n behoefte aan byeenkomste soos Klein Karoo Klassique. Dit gun ons die geleentheid om vir ’n oomblik weg te breek en ons siel te voed en jou met hernude moed toe te rus,” sluit hy af.
Die volledige feesprogram is by www.klassique.co.za beskikbaar.
Kaartjies is te koop by Webtickets, Pick n Pay, of die KKNK-kantoor en word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid.