ATKV-Woordveertjies: Tekste wat boei bekroon
Dit is weer daardie tyd van die jaar wat die ATKV skrywers, digters en dramaturge se uitsonderlike pennevrug, toewyding en kreatiwiteit vier. Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasie rondom die Afrikaanse woord.
“Om op te krul met ’n aksiebelaaide spanningsroman is beslis een van die klein plesiertjies in die lewe. Daarom kan ons nie anders as om skrywers te vereer wat die rusbankspeurder in ons elkeen wakker maak nie,” sê Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV-MSW.
“Benewens spanningslektuur is die waarde van niefiksie uiters belangrik om die stories te vertel van die wêreld waarin ons leef.
“Laastens maar nie die minste nie is die ATKV-Prosaprys een van die oudste en mees gerespekteerde letterkundepryse in Afrikaans. Dit word reeds sedert 1984 toegeken aan die skrywer van die beste gewilde prosa wat in die voorafgaande jaar verskyn het. Ons is dankbaar dat ons die voorreg het om die wenner se werk onder oë te kry en krediet te gee aan wie dit toekom.”
In die kategorie: Prys vir Spanningslektuur, een van die vinnig groeiendste en gewildste genres in Afrikaans was die beoordelaars: Thys Human, Valda Jansen en Bettina Wyngaard, met die wenner: Rudie van Rensburg – Hartedief (Quellerie).
Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor Hartedief:
Van Rensburg is ’n maestro wat die leser van begin tot einde op ’n naelbytreis neem. Hartedief is ’n roman van hoogstaande gehalte waarin ’n sterk spanningslyn deurentyd gehandhaaf word. Die wyse waarop Van Rensburg al die newe-intriges saamtrek en besonder oortuigend orkestreer, verdien vermelding. Hy maak die navorsing wat hy doen, skynbaar moeiteloos deel van die verhaal. Die grootste verdienste van die roman is egter die wyse waarop die vertelperspektief daartoe bydra dat die leser die verhouding tussen Pieter en sy ma aanvanklik heeltemal verkeerd inskat en dus ’n kerndinamika in die roman miskyk. Sodoende is die onthulling aan die einde van dié roman net so groot soos in meer tradisionele krimi’s. ’n Waardige wenner.
Die Prys vir Niefiksie se beoordelaarspaneel het bestaan uit Willie Breytenbach, Jean Meiring en Martie Retief Meiring met die wenner: Van Humpata tot Upingtonia – Nicol Stassen (Protea Boekhuis).
Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor hierdie boek: Stassen se boek is ’n baie besonderse een. Hy skryf nie net ’n stuk meestal onbekende geskiedenis oop nie, maar hy doen dit boekmatig op ’n manier wat gewoon nie misgekyk kan word nie. Hy sluit ook aan by ’n groeiende tradisie om die kleingeskiedenis van afdraaipaaie wat moontlik nêrens groots heen gelei het nie, met piëteit en aandagtigheid te benader. Dis ’n fyn afgewerkte en treffende blik op ’n moment in ons streek se geskiedenis wat stereotipes in die ban doen – ’n boek waarnatoe keer op keer terugkeer kan word.
Vanjaar se beoordelaars vir die ATKV-Prosaprys was Francois Bekker, Riana Scheepers en Kirby van der Merwe met die wenner: Vier susters – Gerda Taljaard (Penguin Random House SA).Die beoordelaars het die volgende te sê gehad oor die wenboek:
Vier susters is ’n gelykenis van die natuur se wraak as gevolg van die rowwe uitbuiting van grond, mens en dier. Die tema word reeds van meet af aan neergelê. Die karakter Sophie is die waarnemer en optekenaar van die vernielsug van die grond, fauna, flora en die vernietiging daarvan deur oorloë en mense wat mekaar verniel en eindelik almal verontmenslik word. Die teks is deurweef van ’n groen eko-gevoeligheid. Sterk karakters, met sterk beelding deur ’n vaardige skrywer en storieverteller. Dis ’n teks wat insuig en die leser bybly, en wat die Afrikaanse letterkunde op die groot verhoog plaas.
Vir media-onderhoude kontak Jeanné Naudé, ATKV-projekorganiseerder, by 083 232 7276.