ATKV-Woordveertjies vier kreatiwiteit
Dit is weer daardie tyd van die jaar – die ATKV vier skrywers, digters en dramaturge se uitsonderlike pennevrugte, toewyding en kreatiwiteit. Die ATKV-Woordveertjies bekroon jaarliks uitsonderlike prestasies rondom die Afrikaanse woord.
Die ATKV-Kinderboektoekennings word jaarliks aangebied om die gewildste Afrikaanse kinderboeke wat gedurende die voorafgaande kalenderjaar verskyn het, te bekroon.
Die beoordelaars is jong lesers self – iets wat hierdie toekennings van ander onderskei.
Die ATKV-Kinderboektoekennings is daarop gerig om kinders te laat lees en om leesbevordering aan te moedig. Terselfdertyd word erkenning verleen aan skrywers, uitgewers en illustreerders vir hul toegewyde werk.
Jong lesers se keuses vir die beste kinder- en jeugboeke van die jaar is soos volg:
Voorleeskategorie: Graad RR tot 1
- Skrywer: Zuléka Smit (LUCA) – Ben gaan skool toe
- Illustreerder: Johann Strauss (LUCA) – Ben gaan skool toe
Selfleeskategorie: Graad 2 tot 3
- Skrywer: Cecilia Steyn (Human & Rousseau) – Die dodelikste donuts in die heelal
- Illustreerder: Johann Strauss (Human & Rousseau) – Die dodelikste donuts in die heelal
Selfleeskategorie: Graad 4 tot 5
- Skrywer: De Wet Hugo (Human & Rousseau) – Die holderstebolder hondepartytjie: Kinkels en keuses #1
- Illustreerder: Stephen Wallace (Human & Rousseau) – Die holderstebolder hondepartytjie: Kinkels en keuses #1
Selfleeskategorie: Graad 6 tot 7
- Skrywer: Jaco Jacobs (Pan Macmillan SA) – Tekkies
Selfleeskategorie: Graad 8 tot 10
- Skrywer: An-Mari do Carmo (LUCA) – Toe als groen was
Vanjaar gaan die ATKV se toekenning vir leesbevordering aan die Loxion Mobile Library in Vrygrond, een van die armste gemeenskappe op die Kaapse Vlakte.
Die Loxion Mobile Library, ook bekend as die kinders se boekmasjien, is in 2020 in Vrygrond gestig tydens die Covid-19-pandemie, toe kinders tuis moes bly as gevolg van die inperking.
Die stigter en projekbestuurder van dié mobiele biblioteek, die 22-jarige Litha Sam-sam, het die behoefte raakgesien om die geestesgesondheid en welstand van die kinders in die gemeenskap te bevorder. Hy het besluit om dit te bewerkstellig deur hul woordeskat, geletterdheid- en lewensvaardighede te verbeter, asook deur ’n liefde vir lees by hulle te ontwikkel.
Tydens die Covid-19-pandemie het hy kinders in die parke sien speel, en dit is waar die idee ontstaan het om vir kinders in die parke te lees. Sam-sam en ander vrywilligers het besluit om vir kinders te lees op die plekke waar hulle was – parke, straathoeke, oop stukke grond – om op ’n unieke manier toegang tot boeke in hul gemeenskap te verskaf.
Die idee van ’n biblioteekruimte in Vrygrond het kort daarna gevolg en die biblioteek is in 2021 geregistreer.
Die meeste ouers in Vrygrond is werkloos en daar is ’n hoë voorkoms van alkohol- en dwelmmisbruik. Sam-sam, wat in Vrygrond grootgeword het, glo dat alle kinders verdien om pret te hê en hul kinderjare te geniet, ongeag hul agtergrond.
Die Loxion Mobile Library fokus op kinders van drie tot 13 jaar oud. Hulle werk ook saam met vyf kleuterskole rondom Vrygrond en verskaf geletterheidsopleiding aan onderwysers. Tans bedien die biblioteek maandeliks meer as 300 kinders en besoek hulle ook die 150 kleuters van die vyf kleuterskole een keer per week.
Daar is 15 jongmense in diens van die biblioteek en hulle gebruik fietse om boeke direk na die kinders te bring op plekke waar hulle op hul gemak voel.
Toe hulle die biblioteek begin het, was daar slegs vier boeke, maar danksy skenkings is daar nou meer as 250 boeke. Die ouers van die kinders ondersteun die biblioteek, want daar is nou ook ’n biblioteekprogram en kinders kan slegs met ’n biblioteekkaart toegang verkry. Die program sluit ’n biblioteekdag in, waartydens die kinders die biblioteek kan besoek om te lees, deel te neem aan geletterdheidsaktiwiteite en speletjies te speel. Die biblioteek het boeke in isiXhosa, Afrikaans en Engels, maar meer boeke word benodig. Die biblioteek het ook meer vrywilligers, boekrakke en skryfbehoeftes nodig.
Litha sê, “Ons wil ons gemeenskappe sien floreer en gelyke geleenthede vir welvaart vir almal skep. Die kwesbaarste gemeenskappe word dikwels vergeet en het min of niks waarop hulle kan floreer nie. Ons wil dit verander en ons gemeenskappe op ’n lewensvatbare wyse beïnvloed. Nelson Mandela het gesê: ‘Opvoeding is die magtigste wapen waarmee jy die wêreld kan verander’.”
Op 20 September word die wenners van die Prys vir Liefdesroman en Prys vir Romanses aangekondig.