‘“B” is vir boelies’ bemagtig jongmense
Die ATKV se 320 takke speel ’n aktiewe en onmisbare rol in gemeenskappe regoor Suid-Afrika deur taal en die kunste te bevorder en maatskaplike kwessies op ’n innoverende manier aan te spreek. Met ’n sterk fokus op ontwikkeling, bemagtiging en samewerking skep hierdie afdeling ’n veilige ruimte waar jongmense hul plek in die samelewing met selfvertroue kan inneem.
Een van die doeltreffendste mediums wat die ATKV hiervoor inspan, is kinderteater. Teater maak ingewikkelde en sensitiewe temas vir jong gehore verstaanbaar, terwyl dit verbeelding prikkel, empatie kweek en belangrike lewensvaardighede op ’n speelse manier oordra.
Ná die sukses van vorige leesbevorderingsprojekte soos Dinosourusse kan nie lees nie het die ATKV in 2026 die kollig verskuif na ’n nasionale prioriteit wat deur die departement van basiese onderwys geïdentifiseer is: die voorkoming van boeliegedrag.
’n Spesiale besoek aan die Laerskool Randhart
Om hierdie uitdaging doelbewus en kreatief aan te pak, neem die ATKV sy kinderteaterproduksie, “B” is vir boelies, landwyd na skole. In samewerking met die Scenario College (’n SETA-geakkrediteerde drama-instelling en ATKV-tak) bring die produksie die storie van Bella – ’n kreatiewe 12-jarige meisie wat ontdek hoe verbeelding en empatie haar help om boeliegedrag te oorkom.
As deel van hierdie landwye bewusmakingsveldtog het die ATKV ’n kompetisie aangebied waar leerders die geleentheid gekry het om ’n eksklusiewe opvoering van die verhoogstuk vir hul skool te wen.
Die opwinding by die Laerskool Randhart was tasbaar toe dit bekendgemaak is dat een van hul leerders, Ruwan de Bruin, as die nasionale wenner aangewys is.
Boeliegedrag het ’n toenemende epidemie geword wat leerders se emosionele welstand, selfbeeld en akademiese prestasie bedreig. Maryke Kitching van die Laerskool Randhart beaam dat hierdie uitdaging die afgelope jare toegeneem het, maar beklemtoon ook dat dit fyn bestuur kan word.
“Hierdie besoek het nie net groot opwinding na die skoolgronde gebring nie, maar ook ’n belangrike platform geskep om die gesprek oor boeliegedrag, selfvertroue en meelewing in die klaskamer voort te sit. Waar gewone klaskamerlesse soms teoreties kan voel, bring kinderteater ’n nuwe dimensie tot leer,” vertel sy.
“Teaterkarakters dien as rolmodelle en kweek die begeerte by kinders om reg op te tree. Dit gee vir hulle ’n fisieke ‘bloudruk’ van hoe om in soortgelyke situasies te reageer. Deur ’n abstrakte konsep na iets tasbaar om te skakel, maak dit ’n enorme impak en kon die leerders maklik daarmee identifiseer.”
Elda Kruger, ATKV-bestuurder: takke, en Melvin Tobias, ATKV-streeksbestuurder, beklemtoon hoe hierdie inisiatief nie net bewustheid skep nie, maar ook die letter “B” herdefinieer: dit staan nie vir boelies nie, maar vir bont, braaf en buitengewoon.
Hierdie positiewe herdefiniëring van identiteit het ’n diep indruk op die leerders gelaat.
“Dit het ’n veilige ruimte vir hulle geskep waar hulle hulself kon wees sonder die vrees om in ’n spesifieke boksie te pas,” sê Maryke. “Die leerders voel nou bemagtig om vir hulself en mekaar op te staan. Dit het hul selfwaarde verhoog en opregte empatie gekweek.”
Om te verseker dat hierdie boodskap volhoubaar voortleef, voorsien die ATKV ook ’n omvattende gereedskapstel met opleidingsmateriaal sodat skole die produksie selfstandig kan aanbied of die temas verder in die klaskamer kan ontgin.
Raad vir die pad vorentoe
Vir onderwysers wat boeliegedrag in hul eie skole wil takel en kontak met die ATKV wil maak, het Maryke waardevolle raad: “Onderwysers moet op proaktiewe voorkoming, ’n streng beleid en die skep van ’n veilige skoolkultuur fokus. Daar moet ’n gedeelde verantwoordelikheid tussen skoolbestuur, onderwysers, leerders en ouers wees. Die ATKV bied uitsonderlike platforms aan om leerders se talente te slyp en hul selfvertroue te bou. Hou vroegtydig die ATKV-webtuiste dop vir datums sodat die nodige beplanning gedoen kan word.”
Deur inisiatiewe soos “B” is vir boelies bewys die ATKV dat kunstige en kreatiewe samewerking die krag het om lewens te verander.