Bejaardes kry komberse teen die koue
Die ATKV-tak Pretoria Polisie het besluit om vanjaar vir bejaardes die byt uit die koue te haal as die winter vir hulle te lank word.
Met hul projek, Bersies vir Ouma en Oupa, kon dié tak drie ouetehuise se bejaardes, sowel as behoeftige bejaardes in die stad, teen die koue pantser. Van die komberse is ook aan behoeftige bejaardes in die Bolandse dorp, Wellington, gestuur.
Ona Kloppers, voorsitter van die ATKV-tak Pretoria Polisie, en haar span stiksters het altesaam 160 komberse gemaak en uitgedeel. “Dit was ’n droom van my om bejaardes op hierdie manier by te staan,” sê Ona.
Saam met elke kombers is daar ook ’n soppakkie en sjokolade uitgedeel vir ’n bietjie ekstra liefde.
Ona wil graag sien dat dit ’n jaarlikse instelling word om komberse vir bejaardes te maak en uit te deel, en hoop dat hulle volgende jaar selfs nog meer komberse sal kan gee.
“Om te gee, is deel van wie ons, die ATKV, is. Daar is baie kreatiewe maniere om te wys jy gee om. Handgemaakte komberse is maar net een só ’n manier,” sê sy.
Om betrokke te raak by die ATKV-tak Pretoria Polisie, kontak Hennie Kloppers by 079 506 7067 of stuur ’n e-pos na kloppersh@saps.gov.za. Besoek https://atkv.org.za/ons-storie/takke/ om jou naaste ATKV-tak of ATKV-jeugtak te vind. Stuur ’n e-pos aan atkv@atkv.org.za as jy belangstel om ’n ATKV-tak te stig.