Breigroep bied baie meer as net handwerk

Die mat is in 2021 onder Mandie de Bruin se voete uitgeruk toe sy ná 30 jaar haar werk verloor het. Min sou sy weet dat hierdie verlies sou lei tot ’n groot wins – een van kameraadskap en naasteliefdediens.
“Dit was vir my ’n ongelooflike skok toe ek my werk verloor. Skielik was ek ’n tuisteskepper. Ek was gewoond daaraan om kollegas om my te hê, en nou was ek stoksielalleen. Ek was 50 en hoewel ek vir ’n klomp ander poste aansoek gedoen het, het ek net nooit van iemand teruggehoor nie,” vertel Mandie.
“Ek was aangewese op myself – my eie geselskap, denke – en het myself in ’n kokon bevind. Ek dink nét mense wat al deur so iets was, sal weet waarvan ek praat.”
Mandie, ’n lid van die ATKV-tak Arendsnes aan die Wesrand, het gereageer op haar kerk se uitnodiging om vir agt weke deel te word van ’n kleingroep.
“Ek het gereken, dalk kan ek ’n verskil maak.”
Die agt weke is in ’n oogwink verby en ander ATKV-taklede het hulle toe by die groep aangesluit en só is Hekel & Brei gebore.
Die lede van die Hekel & Brei-groep is so verskillend soos die kleure wol wat ’n mens kry wanneer jy besoek aflê by ’n naaldwerkwinkel.
“Daar is vroue wat hul eggenoot weens Covid-19 verloor het, oujongnooiens en dan natuurlik getroudes wat net so ’n bietjie vir ’n paar uur onder manlief se oë wil uitkom. Daar is dié wat al meer as 70 jaar op die aardse pad wandel. Ek is tans die jongste,” sê Mandie laggend.
Dis vir Mandie belangrik om ’n gevoel van behoort te skep. “Elkeen moet weet dat as hulle die dag nie daar is nie, is hul plekkie leeg.
“Een van die vroue het die groep so mooi beskryf. Sy sê ‘ons pas soos ’n handskoen’. Wanneer ek met van die vroue praat, hoor ek woorde soos ‘ek behoort’ en ‘ek voel tuis’.”
Elke byeenkoms is heerlik – daar word natuurlik gehekel en gebrei, maar hulle ruil ook resepte uit, maar die belangrikste is seker die kameraadskap.
“Een van die vroue wie se man dood is, wou aanvanklik nie kom nie. Maar sy het haar uiteindelik by ons aangesluit en ek dink ’n mens besef dan dat elkeen sy fair share van slegte dinge in die lewe gehad het. Ons oordeel mekaar nie. Ons lag saam, huil saam en ondersteun mekaar.”
Mandie beskryf Donderdagoggende se Hekel & Brei-byeenkoms as soortgelyk aan ’n sessie by ’n terapeut. “Ons help sonder dat ons dit besef en voorsien in mekaar se emosionele behoeftes.”
Gedurende die jaar het elke groeplid vir haar eie kinders en kleinkinders gehekel – van babakombersies, babaklere en ’n groot dubbelbedkombers tot ’n poncho.
Daar is tans drie ATKV-lede in die groep, van wie twee lede is van die ATKV-tak Arendsnes.
“Ons beoog om ’n tweede Hekel & Brei-groep te stig om meer betrokke te raak in die gemeenskap, of selfs uit te brei na die plaaslike sentrum vir bejaardes. Die belangstelling is daar … Al wat kort, is ’n tyd en ’n plek.”
As jy belangstel om jou by die groep aan te sluit, kontak gerus vir Mandie deur ’n e-pos te stuur na mandiedebruin@gmail.com.