Bridgitte Mathews aangewys as voorsitter van die ATKV-direksie

Die ATKV het Donderdag die laaste dag van die algemene jaarvergadering by ATKV-Klein-Kariba (Bela-Bela) afgesluit met ’n nuwe direksievoorsitter.
Die ondervoorsitter Bridgitte Mathews sal die leisels by die uittredende voorsitter, Anton Redelinghuis, oorneem.
“Ek weet dat die ATKV aan niemand anders as sy lede behoort nie,” sê Bridgitte.
“Dit gaan uitdagend wees om Anton se skoene vol te staan, maar ek gaan dit tot die beste van my vermoë doen.”
Bridgitte dien sedert 2014 op die ATKV-direksie. Sy beskik nie net oor ’n wye kennis van die Afrikaanse taal nie, maar is ook Engels, Zoeloe, Frans en Setswana magtig.
Sy is ’n geoktrooieerde rekenmeester en het vir talle maatskappye as finansiële bestuurder opgetree. Sy dien ook in die finansiesportefeulje van die ATKV.
Sy bedryf haar eie besigheid wat konsultasiedienste in die areas van risiko en nakoming bied.
Afgesien van haar rol as direksielid van die ATKV, dien sy ook op ’n aantal direksies (genoteerde, sowel as private maatskappye) in die landbou-, eiendomsbeleggings-, finansiëledienste-, sowel as logistieksektore.
Die direksielid JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder, is tot ondervoorsitter verkies en adv. Hennie Strauss is in die plek van ds. Dawid de Wet tot die direksie verkies.