Chareldine van der Merwe palm Kokertoekenning in
Haar liefde vir die ontwikkeling en bevordering van lees onder jong kinders ken geen perke nie. En juis hiervoor is Chareldine van der Merwe, projekbestuurder by Vriende van Afrikaans, met ʼn Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad (ATR), vir bemagtiging deur Afrikaans, vereer.
Oor die toekenning sê Chareldine, “Ek het dit glad nie verwag nie. Mens doen mos jou werk omdat dit jou werk is en omdat dit vir jou lékker is. Maar wanneer jy dan iets soos ʼn Koker kry is dit die kersie op die koek. ʼn Mens besef nie altyd wat die impak is van dit wat jy doen of die waarde wat jy tot mense se lewens toevoeg nie. Die toekenning is erkenning van my werk, en het vir my gewys ons is op die regte pad by Vriende van Afrikaans. Vir my is dit ook ʼn groot motivering. Partykeer is daar so baie dinge wat jou laat twyfel of dit wat jy doen werklik ʼn impak het. Nou weet ek weer dat ons beslis ʼn verskil maak.”
Die Kokertoekennings gee erkenning aan mense vir hulle bydraes tot die bevordering en beskerming van Afrikaans, asook praktiese bemagtiging deur die taal. Spesiale jeugtoekennings word gemaak, asook toekennings wat lewenslange bydraes erken.
“Ons wil sien dat mense wat agter die skerms vir Afrikaans werk erkenning kry, iets wat veral van toepassing is op vanjaar se Kokertoekennings vir lewenslange bydraes. Jonger Kokerwenners dien weer as inspirasie vir die jonger generasie en moedig hulle aan om meer vir hulle taal te doen,” sê Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR. Volgens Steenkamp wys die wenners dat Afrikaans meer as een gewaad dra. “Afrikaans verbind al sy sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat. En onderliggend aan alles is natuurlik nog altyd die beginsel dat Afrikaans nie eenkant op ’n mishoop sit nie, maar aktief met die sprekers van die ander inheemse tale saamwerk om die sukses van ’n ware meertalige bestel te verseker.”
“Die Kokertoekennings is ’n geleentheid om die verskilmakers in die Afrikaanse taalgemeenskap te vereer vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen. Kokerwenners dra direk by tot die ryke erfenis van die Afrikaanse taalgemeenskap in sy geheel en daarvoor salueer ons hulle,” sê Annelise de Vries, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.
Meer oor VVA
Chareldine se werk behels onder meer leesontwikkelingsprojekte, voorlesings aan kinders, en die uitdeel van boektrommels. “Geletterdheid is die brug van ellende na hoop; geletterdheid beteken dat jy moet kan lees. Dit is daarom my missie in die lewe om aan elke kind die geleentheid te bied om uit hul ellende te kom deur gesonde leesgewoontes, veral onder leerders aan primêre skole, aan te wakker,” sê sy.
Die VVA het in 2014 deel geword van die ATKV as gevolg van hul identiteit en projekte. Dit het hulle die platform gegee om hul voetspoor te vergroot. Die boektrommelprojek is die VVA se vlagskipprojek en fokus hoofsaaklik op leesbevordering. Elke trommel bevat tussen 90 en 110 boeke met ʼn waarde van R8500. “Ons sorg dat die boeke die kinders bereik. Ons sien ook toe dat dit toepaslike boeke op die kinders se vlak is, en dat dit boeke is wat hulle lus vir lees sal aanwakker,” sê sy.
“Soveel as 56% van Suid-Afrikaanse huishoudings besit nie ʼn boek nie. Daar is nie ʼn leeskultuur nie. Vir kinders in hierdie huishoudings is daar nog nooit voorgelees nie. As daar nie ʼn leeskultuur bestaan nie, kan ons nie verwag dat ons kinders weet wat die belangrikheid en waarde van boeke en lees is nie. Wanneer ons boeke by skole aflewer, gaan ons ook in die klasse in, doen voorlesings en opvoeding. Ons sê vir hulle wat jy met ʼn boekie moet doen en wat jy nie moet doen nie, en ons verduidelik ook vir hulle wat boeke kos. Boeke is duur en moet opgepas word sodat ander mense dit ook weer kan gebruik en geniet,” sê Chareldine.
Om koste te bespaar, maar ook om ʼn sinvolle, volhoubare impak te maak met boeke en opgeleide praktisyns en opvoeders wat agterbly om die werk voort te sit, bestaan die projek uit:
- Die verspreiding van boektrommels en gepaardgaande boekopvoeding by ʼn aantal kleuter- en laerskole landswyd;
- Voorleeswerkswinkels en ʼn Doen en Leer-demonstrasie (vir opvoeders, ouers en ander belangstellendes);
- Leesondersteuningsopleiding vir kinders wat reeds kan lees. Daar word gehelp met leesspoed en -begrip (deur die Doen en Leer-leesprogram);
- Leeskonferensie vir onderwysers.
- Die agt wenners van vanjaar se Kokertoekennings is Willem Botha (Lewenslange bydrae), Mariëtta Kruger (Lewenslange bydrae), Chareldine van der Merwe (Bemagtiging deur Afrikaans), Karien Brits (Bevordering van Afrikaans), Danie van Wyk (Beskerming van Afrikaans), Barron Hufkie (Jeugkoker), Marlie Coetzee (Jeugkoker) en Kanja van der Merwe (Jeugkoker).