Crescendo-finalis stel eerste oorspronklike liedjie vry
Die gebore en getoë Pretorianer, Alzanley Lizemore, wat deel is van ATKV-Crescendo se musiekontwikkelingsprojek, se nuutste enkelsnit, “Klein Oneindigheid”, is op 4 Augustus op alle stroomplatforms vrygestel. Dit volg op haar vorige enkelsnitte, “Daar is Hoop”, “Wind en Sand” en “I Don’t Wanna Know”.
“Inspirasie kan van baie bronne kom,” vertel Alzanley. Vir hierdie liedjie is haar grootste inspirasie haar man. “Hy laat my altyd veilig en geliefd voel. Hy is een van die mooiste mense met die grootste harte wat ek ken. Die wêreld sal soveel beter wees met meer mense soos hy. Deur sy voorbeeld moedig hy my aan om elke dag ’n beter persoon te probeer wees.”
Alzanley se sangmentor, Jolanda Becker, help om haar musiektalent te ontwikkel. “Ek bewonder haar nie net vir haar asemrowende talent nie, maar ook vir haar absolute toegewydheid aan musiek. Sy moedig my aan met haar waardering teenoor my as ’n kunstenaar. Sy was nog altyd daar vir my en ek weet sy sal altyd wees.”
Oor die ATKV-Crescendo-span kan sy nie uitgepraat raak nie. “Hierdie inisiatief blaas nuwe lewe in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Hulle help om die drome van jong musikante waar te maak. Dit is ’n ongelooflike eer en voorreg om een van die musikante te wees wat in 2022 gekies is om deel van ATKV-Crescendo te wees. In my geval het Jürgen von Wechmar, Jaques Victor en Helmut Meijer my gehelp om my eerste oorspronklike Afrikaanse liedjie by Sunset Recording Studios op te neem.”
Vir 2023 word ’n Afrikaanse EP (’n album bestaande uit ongeveer ses liedjies) met die naam Klein Oneindigheid beplan. Twee musiekvideo’s gaan ook deur die loop van die jaar vrygestel word.
Gaan luister hier na Klein Oneindigheid.