‘Crescendo Goud: Divas in Afrikaans’ betower gehoor
Daar is oomblikke wat ’n mens onverwags terugneem na ’n tyd wat jy gedink het lankal verby is. Nie omdat jy doelbewus onthou nie, maar omdat ’n stem, ’n melodie of ’n enkele liriek herinneringe wakker maak wat stilweg onder die oppervlak gelê het. Nét so het ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans die gehoor by die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch betower.
Dié produksie bring verskillende generasies van Afrikaanse musiek op een verhoog bymekaar en herinner ’n mens waarom hierdie liedjies steeds ’n plek in mense se harte het. Toe die musiek begin, was dit nie bloot ’n konsert nie – dit was ’n reis deur die klankbaan van Afrikaanse musiek.
Wie kan die ikoniese Kaalvoetvrou, Karin Hougaard, die tydlose elegansie van Anna Davel, of Andriëtte Norman se sprankelende energie ooit vergeet? Hierdie kunstenaars het oor die jare heen hul stempel op die Afrikaanse musiekbedryf afgedruk en vorm steeds die inspirasie vir ’n nuwe geslag sangers. Die veelsydige aktrises en sangeresse, Ilse Klink en Stephanie Baartman, het die verhoog met hulle gedeel.
Die nuwe geslag stemme, waaronder Gracia Louw, Lizl Simoes, Tamryn Madalé Paulse en Janine Fourie, het hul unieke persoonlikheid en styl na die verhoog gebring. Saam het hulle iets besonders geskep – hulle het nie probeer om die oorspronklike kunstenaars na te boots nie, maar het eerder nuwe lewe gegee sonder om die oorspronklike emosie te verloor.
Die konsert was van hoogstaande gehalte, die harmonieë indrukwekkend en die energie aansteeklik. Die gehoor het nie net geluister nie – hulle het saam onthou, saam gesing en die musiek opnuut beleef.
’n Besondere hoogtepunt was Gracia Louw se poësie. Haar gedigte het die musikale gedeeltes op ’n natuurlike wyse aan mekaar verbind en ’n dieper emosionele laag aan die produksie verleen. Dit was veral met haar huldeblyk aan Anna en Karin waar haar woorde die gehoor herinner dat musiek en digkuns nog altyd hand aan hand stap.
Die grootste sukses van ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans lê egter nie net in die gehalte van die produksie nie, maar in wat dit verteenwoordig. Dit is ’n bewys dat die ATKV-Crescendo-mentorskapprogram steeds nuwe talent ontwikkel en jong kunstenaars toerus om hul eie stem in die Afrikaanse musiekbedryf te vind.
Vir enige jong kunstenaar wat daarvan droom om eendag op ’n verhoog te staan, is ATKV-Crescendo veel meer as ’n mentorskapskapprogram – dit is ’n geleentheid om onder ervare mentors te groei, jou kuns te slyp en deel te word van ’n trotse Afrikaanse musiekerfenis.
Die terugvoer van die twee tydlose ikoniese sangeresse was vol lof en prys vir hulle medekunstenaars.
“Dit was ’n baie groot lekkerte om saam my gunstelingdivas op te tree. Ek het die grootste respek vir Ilse Klink. Sy is baie gemaklik voor die kameras en tuis op die verhoog. Om saam met Karin ’n duet te sing en ’n verhoog te kon deel was ’n hoogtepunt vir my,” vertel Anna wat vir die eerste keer saam met Karin gesing het.
“Andriette is ’n wonderlike kunstenaar en rotsvas,” gaan sy voort. “Ek lig my hoed vir iemand soos sy wat al jare uit musiek ’n lewe maak, toer en tyd in haar loopbaan belê terwyl sy nog kinders ook groot maak.”
Volgens Karin was dit ’n voorreg om al vir 35 jaar ’n verbintenis met ATKV-Crescendo te hê.
“Ek was ontsettend geraak deur Gracia se huldeblyk en het dit glad nie verwag nie. Sy het nie net my musiek en reis as musikant raakgevat nie, maar ook Anna se reis. Gracia het dit pragtig verwoord. Dit is ’n kleinood wat ’n baie spesiale plek in my ateljee gaan hê. Elke keer as ek daarna kyk kry ek ’n knop in my keel.
“Een van die lekkerste dinge was om tyd saam die kollegas te kon spandeer. Ek dink ons het almal ’n eensgesindheid en egoloosheid wat baie spesiaal is. Ek sien uit daarna om kyk hoe die nuwe kunstenaars se paadjies vorentoe gaan lyk,” vertel Karin.
Die Bravo!-span met aanbieder, Ewan Strydom, het onderhoude vroeër die dag met die sterre gedoen en die vertoning verfilm. Die program sal einde Julie na Augustus uitgesaai word.
Wanneer die laaste noot wegsterf en die verhoogligte doof, bly daar meer oor as net applous. Daar bly die wete dat Afrikaanse musiek steeds nuwe stemme vind om ou stories te vertel, en dat hierdie stories nog lank nie klaar gesing is nie.
Met ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans het die ATKV nie net teruggekyk na die verlede nie – hulle het gewys dat die toekoms van Afrikaanse musiek in bekwame hande is.
Die YouTube-uitsending van ATKV-Crescendo Goud: Divas in Afrikaans is nou beskikbaar.