Crescendo-klawerkoning ’n musikale kompas
William Jacobs se lewe en passie is musiek. “Ek eet, slaap en droom met musiek, heeldag en aldag,” sê hy. En dit was nog altyd deel van sy lewe. “Sedert ek kan onthou, is musiek in ons huis gespeel. My pa was ’n musikant en ek het my talent in my ouerhuis ontdek,” vertel hy.
William was trouens nog ’n tjokkertjie toe hy danksy sy pa die wonderwêreld van musiekinstrumente, én sy talent, ontdek het. Hy sê die klavier en klawerbord was die instrumente wat hom geroep het – sy pa het hom leer speel.
Sedertdien het hy gegroei van ’n wonderkind tot ’n vorentoe-musikant wat nie terugkyk nie. Vandag is dié jazz-fundi ATKV-Crescendo se musikale regisseur en vervaardiger en, sê die ATKV, amper soos ’n kompas vir die deelnemers van dié mentorprogram. “Ek mentor en gee raad aan die finaliste en ek probeer om altyd vars en unieke maniere te kry om hul liedjies te verpak en aan te bied,” verduidelik hy.
ATKV-Crescendo is egter nie die enigste ATKV-front waarop William uitblink nie. Tydens die Covid-19-pandemie het hy deur sy vriend, die kletsrymer Robin-Dean Fourie, by die Platformsessies betrokke geraak. “Robin het gereken ek is die geskikte persoon; die een wat die finaliste se musiek die beste kan uitbring,” vertel hy.
ATKV-Crescendo stel hom ook in staat om sy liefde vir die gemeenskap en die ontwikkeling van die gemeenskap uit te leef. Hy beskou ATKV-Crescendo as die ideale platform om jong kunstenaars se talente te ontgin en te slyp en vir hulle die geleentheid te gee om deur gevestigde kunstenaars gementor te word.
Vir William en Robin is dit ’n spanpoging om ATKV-Crescendo se begaafde aspirantmusikante op hul pad na loopbaansukses te begelei. Die twee maak werk-lewe vir mekaar maklik en mooi. Van mooi gepraat, William reken die Platformsessies is een van die beste dinge wat met ATKV-Crescendo kon gebeur. “Dit het die potensiaal om die mooiste ervarings uit mense te haal en aan fenomenaal unieke stukke musiek geboorte te gee,” sê hy.
In hierdie verhewe hoedanighede reken ATKV-Crescendo se musikale genie en morele kompas hy is eintlik al deel van die meubels by die ATKV. As dit die geval is, is William Jacobs ongetwyfeld ’n gesogte versamelaarstuk.