Crescendo-kunstenaar en ’n legende snoer kragte saam
Vir die Paarlse sangeres en liedjieskrywer Tamryn Madalé het ’n groot droom op Vrydag 6 November 2026 waar geword toe sy saam met Francois van Coke op die verhoog gestaan het tydens Alles van my, die bekendstellingsvertoning van haar nuwe EP, “EG”, by Daisy Jones buite Stellenbosch.
Een van haar liedjies heet “Alles gaan okay wees”, en teen die einde van die aand was dit duidelik dat dinge inderdaad meer as net oukei verloop het. Dit was ’n uitstekende vertoning waarin Tamryn en Francois, saam met ’n besondere groep musikante, die gehoor van die eerste tot die laaste liedjie geboei het. Die program het van intieme, akoestiese oomblikke tot volbloed rock en lekker saamsingnommers beweeg.
Sy is begelei deur die ATKV-Crescendo-band onder leiding van die musikale regisseur William Jacobs, met Anthon Mannel op tromme, Donovan Dyers op baskitaar en Eddie Strings op kitaar. Die bekende saksofonis Hiram Koopman het met sy spel ’n verdere dimensie aan die musiek gegee.
Vir Tamryn was dit moeilik om een hoogtepunt uit te sonder. “Elke liedjie, die akoestiese stel, die oomblik toe die saksofoon inkom en hoe alles bymekaar gekom het, was vir my besonders.”
Sy erken dat die senuwees voor die vertoning geknaag het. “Alles het so vinnig gebeur, maar toe ek op die verhoog kom, was die senuwees weg. Ek kon net die oomblik geniet.”
“Alles gaan okay wees” was op die liedjielys, gevolg deur “Mag ek eerlik wees”, die eerste Afrikaanse liedjie wat Tamryn vir die UNPLUGGED-konsert geskryf het en wat haar liefde vir liedjieskryf in Afrikaans laat posvat het.
Die program het daarna ’n rustiger wending geneem met ’n akoestiese stel waarin sy onder meer Laurika Rauch se “Mense op die bus” gesing het. Rauch het ’n groot invloed op haar eie skryfwerk en sang gehad.
“Wat ek van Laurika bewonder, is dat sy nie baie hoef te doen om jou aandag te hou nie. Die melodieë en die manier waarop sy ’n storie vertel, is genoeg.”
En toe kom Francois van Coke. Met sy kenmerkende stem en gemak voor ’n gehoor het hy gewys waarom hy steeds een van die land se gewildste kunstenaars is. Groot gebare was nie nodig nie. Francois was eenvoudig Francois, en dit was meer as genoeg.
“Mense sê altyd jy moenie jou helde ontmoet nie, maar ek is só bly myne is in die regte lewe ook so cool. Daar was oomblikke wat ek net agter op die verhoog gestaan het en alles ingeneem het,” vertel Tamryn.
Een van die aand se hoogtepunte was “Die wêreld is mal”, terwyl Francois se “Dagdrome in Suburbia” die gehoor behoorlik laat saamsing het. Dit was juis die eerlikheid in albei kunstenaars se musiek wat hul samewerking so natuurlik laat voel het. Met “As jy maar net moes weet” het Tamryn teruggekyk na haar kinderdae en die drome wat sy destyds gehad het.
Met “Stemme”, een van die mees persoonlike liedjies op die program, het Tamryn weer ’n ander kant van haar kunstenaarskap gewys. “Ek was onseker oor hoe mense op ‘Stemme’ sou reageer omdat dit so rou en persoonlik is. Om die gehoor se reaksie te beleef, is iets wat my lank sal bybly.”
’n Verdere spesiale oomblik was toe Gracia Louw saam met Selby en Francois op die verhoog verskyn het om ’n getekende kunswerk wat spesiaal vir die konsert ontwerp is, te oorhandig. Die aand is afgesluit met Francois se “Toe vind ek jou”, wat Tamryn saam met hom gesing het.
“Wie sou ooit kon dink dat ek hierdie liedjie saam met Francois van Coke sou sing? As die dogtertjie wat ek eens was maar net kon weet hoe ver haar drome haar sou bring...”
Leon Botes van Kolskoot Radio glo Tamryn gaan nog baie gehore aan haar voete hê. Volgens hom lê haar besondere aanslag daarin dat sy nie bloot sing om te vermaak nie, maar haar eie ervarings en waarnemings in musiek omskep waarin ander hulself kan herken.