Crescendo: Onvergeetlike afsluitingskonsert wag
ATKV-Crescendo bied op 28 September die Sit dit aan!-produksie by die Daisy Jones-teater net buite Stellenbosch aan, waar 2024 se finaliste hulle musikale ontwikkeling oor die afgelope ses maande ten toon sal stel. As deel van ATKV-Crescendo se vyftigste bestaansjaar gaan hierdie talentvolle musikante die verhoog deel met legendes Simon Witbooi (aka HemelBesem), Gracia Nicholls en Whaden Johannes.
Kreatiewe direkteur, Robin Fourie, verklap dat hierdie bekendstellingskonsert ’n kykie op die finaliste se persoonlike en professionele reis tot waar hulle vandag is, gaan bied. “Hierdie reise was nie net altyd mooi en suksesvol nie; daar was onstuimige, ongemaklike tye ook. Elke finalis verdien om te sien watter hoogtes hy of sy reeds bereik het met die wete dat hierdie avontuur nog ver van klaar is.”
Finaliste Lize-Marié Naudé en Lester Paulus (aka Crimson Hozay) is maar net twee van die finaliste wat bevestig dat die persoonlike groei wat hulle deur die loop van die jaar gehad het net so kosbaar is as die vaardighede wat hulle gaan help om ’n suksesvolle en volhoubare loopbaan in die kunste te hê. Vir Lize-Marié is dit veral die mense wat haar lewe beïnvloed het. “Hierdie mense is next level. By hulle kon ek net myself wees. Ek hoef nie voor te gegee het nie, ek kon sonder grimering wees. Ek is aanvaar net soos ek is en dit is wat die mooi van musiek en musikante is – ons bring die beste in mekaar uit. Die ATKV-Crescendo-familie is nou die een familie wat ek nie gaan los nie.”
Meer selfvertroue is wat vir Lester Paulus (aka Crimson Hozai) uitstaan as hy die persoonlike groei wat hy hierdie jaar ervaar het, moet beskryf. “Ek het meer vertroue in myself, die soort musiek wat ek skryf en die soort kunstenaar wat ek is. Ek kan ook nou oor enige onderwerp skryf en rap. Na dese verstaan ek dat my opinie van ander s’n verskil en ek is oukei daarmee.”
Gerrie Lemmer, ATKV-uitvoerende hoof: kultuur, verduidelik dat hierdie bekendstellingskonsert aan die einde van elke jaar ’n hoogtepunt op die ATKV se kalender is. “Dit is net ongelooflik om te sien hoe finaliste vanaf die eerste slypskool in April vanjaar gegroei het tot die kunstenaars wat die gehoor met Sit dit aan! gaan sien.”
Daar is verskillende kaartjie-opsies om van te kies: ’n Standaardkaartjie kos R150. Koop joune voor 15 September, kry R50-afslag en betaal slegs R100. BBP-kaartjies, wat versnaperinge en ’n glasie van Crescendo se eksklusiewe wynreeks insluit, kos R300. Koop voor 15 September, kry R100-afslag en betaal slegs R200 per kaartjie. Besoek www.crescendo.org.za om te verseker jy beleef hoe nuwe legendes gebore word.