Dekade van Vlymskerp gevier
Die ATKV-Vlymskerp-vasvra het onlangs plaasgevind en die leerders wat aan dié kompetisie deelgeneem het, het al hulle grysstof vir vanjaar se kompetisie ingespan en só die 10de verjaarsdag daarvan saam gevier.
Hierdie interskolevasvra is ’n opwindende, prettige ervaring om jongmense se algemene kennis te toets. Vanjaar se Vlymskerp-slagspreuk was, “Ons vier ’n dekade van kennis.”
Vanjaar se Vlymskerp-vasvra vir laerskoolleerders en hoërskoolleerders het by die Laerskool Sunridge in Gqeberha plaasgevind.
Volgens Christie Swanepoel, ATKV-streeksbestuurder, kan vier leerders per span inskryf. “Elke skool kan een span inskryf,” sê sy.
“Die Vlymskerp-vasvra is deur die vorige streeksbestuurder, Elda Kruger, op die been gebring om leerders aan te moedig om koerant te lees. Met die tye wat verander het, het ons die kompetisie aangepas om algemene kennis te toets.
“Dit is nie ’n gewone olimpiade nie,” benadruk Christie.
“Die Vlymskerp-vasvra bestaan uit drie rondes: Die eerste ronde is veelvoudige keuse – dit was in vorige jare ’n geskrewe ronde, maar ons het beplan om hierdie jaar die eerste ronde ’n bietjie anders aan te pak. Die tweede ronde is ’n snelvuur-afdeling waar elke skool die kans kry om punte aan te teken.
“Dan is dit die semifinaal en die finaal.”
Net soos verlede jaar, was daar algemene-kennisvrae oor die wêreld, asook vrae oor taal en musiek.
Die afgelope twee jaar was die akteur Beer Adriaanse van Slim van sy baas-faam op VIA die Vlymskerp-aanbieder, en vanjaar is die kompetisie deur Wilhelm van der Walt, bekend vir sy rolle in 7de Laan en Fynskrif, aangebied.
Die wenners van vanjaar se Vlymskerp-vasvra is:
Hoërskool-afdeling
- Eerste plek: Die Brandwag Hoërskool
- Tweede plek: Die Hoërskool Pearson
- Derde plek: Die Hoërskool Kirkwood
Laerskool-afdeling
- Eerste plek: Die Sunridge Primêre Skool
- Tweede plek: Die Laerskool Innes
- Derde plek: Die Laerskool Handhaaf
Die groep beoordeelaars wat vanjaar die wenners moes aanwys, is kundiges op die terrein van taal en musiek.
Baie geluk aan al die Vlymskerp-wenners!