Skip to main content

Dit was ’n blye dag toe daar in Januarie vanjaar aangekondig is dat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) weer vanaf 29 Maart tot 3 April 2022 in “lewende lywe” terugkeer na Oudtshoorn. Twee jaar gelede is die ikoniese Karoofees in sy spore gestuit deur die inperkingstyd en streng veiligheidsmaatreëls wat deur die Covid-19-pandemie genoodsaak is. Die fees het ook nie verlede jaar fisies plaasgevind nie en kunsteliefhebbers en teatergangers moes tevrede wees met kuns en kultuur op verskeie digitale platforms.

Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur van die ATKV, sê dit was wonderlike nuus, want daar is immers geen plaasvervanger vir ’n lewendige fees nie. “Dis fantasties om weer te kan fees hou. Die laaste twee jaar het almal maar probeer aan die gang bly met digitale aanbiedings, maar dit is net nie dieselfde nie. As ’n mens nou kyk na die entoesiasme van almal wat betrokke is by die fees – die akteurs, kunstenaars en musikante – besef ’n mens daar is geen manier om dit te vervang nie.

“Een ding van so ’n fees is dat dit ’n uitstekende netwerkgeleentheid is waar belangstellendes fisies in gesprek kan tree. Deur al die jare wat die ATKV betrokke is by feeste het ons gesien dít is waar die groot dinge gebeur, waar nuwe projekte geïdentifiseer word en samewerkingsooreenkomste bespreek word. Ek sien geweldig baie daarna uit dat die bedryf weer aan die gang kom en dat die mense in die kultuurwêreld, maar ook die entrepreneurs met hul stalletjies, weer ’n inkomste kan verdien.”

Gerrie beklemtoon dat die ATKV van dag een af betrokke was by die KKNK. Deur die jare het die ATKV op verskillende maniere ’n verskil in Oudtshoorn gemaak deur bydraes soos die ATKV-verhoog, stalletjies, kursusse, tienertoneelproduksies, visuele kunste en die Rieldans.

“Elke jaar word die ATKV se betrokkenheid by die KKNK haarfyn beplan om seker te maak die ATKV se strategiese doelwitte word ’n werklikheid. Die ATKV glo dat wanneer ons by die fees in iemand se toekoms belê, ons daardie persoon toerus om ook ’n verskil in ander se lewens te maak. Dit is tog waarvoor ons hier op aarde geplaas is,” sê Gerrie.

Vir vanjaar se 26ste KKNK het die ATKV besluit om te fokus op sy doelwit om gemeenskapsaktiwiteite te bevorder. Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, het ’n besondere projek op vanjaar se fees met die ATKV gedeel en hulle genooi om betrokke te raak.

Die Karoo Kaarte-projek is grensverskuiwend en meer as 300 inwoners van Oudtshoorn is vanjaar by dié projek betrek. Karoo Kaarte bestaan onder meer uit ’n teaterproduksie, ’n visuele kunsuitstalling en die publikasie van vier tydskrifte. Die naam Karoo Kaarte se betekenis is tweeledig – dit verwys na kaarte wat roetes en plekke afbaken, maar daar is ook in die volksmond die uitdrukking “om kaarte te sny”. Dit beteken om lekker te kuier en lighartige of ernstige stories te deel. Met dit in gedagte het die Oudtshoorniete verskeie metodes gebruik om inligting oor hul tuisdorp te versamel om stories oor Oudtshoorn en sy mense en die verhaal van die dorp vandag en geskiedkundig te kan vertel.

Meer as 100 inwoners van Oudtshoorn, Bongolethu en Bridgton het oudisies gedoen om aan die projek deel te neem. Die visuele kunstenaar Vaughn Sadie en die teatermaker Neil Coppen staan aan die stuur van die projek. Hulle woon al ses maande lank in Oudtshoorn en werk daagliks met ’n groep kunstenaars, skrywers, musikante, akteurs, opvoeders, kunsleiers en aktiviste en help hulle om vlerke aan hierdie projek te gee. Die oogmerk is ook om ’n standhoudende langtermynverbintenis met Oudtshoorn se gemeenskap te smee met die kunste as gemene deler. Kunstenaars sal dus voortaan jaarliks die geleentheid kry om hul talente ten toon te stel, hetsy as teaterproduksie of visuele kuns.

Die teaterproduksie Op hierie dag sal vir die duur van die fees in die Toekomsrus-saal in Bridgton, net buite Oudtshoorn, opgevoer word. Die stuk is geïnspireer deur Dylan Thomas se toneelstuk Under Milk Wood waarin hy die mense van ’n klein dorpie in Wallis laat praatDie produksie behels storievertelling, musiek, sang, poësie en fisieke teater en die kunstenaars is almal inwoners van Oudtshoorn. Na afloop van die produksie volg ’n gesprek tussen die rolverdeling en die gehoor. Neil Coppen tree as mentor op, maar die betrokkenes het self die projek geskryf, geregisseer en vertolk. Daar is ook twee muurskilderye en ’n visuele kunsuitstalling van kunstenaars uit die streek se werk en collages wat deur gemeenskapslede tydens werkswinkels geskep is. Nog ’n opwindende element van Karoo Kaarte is ’n projekdigbundel wat daagliks gedurende die fees versprei sal word.

“Dis vir die ATKV besonder lekker om betrokke te raak by ’n projek soos hierdie waar die onvertelde en onbekende verhale van die mense van Oudtshoorn uiteindelik gehoor gaan word,” sê Gerrie. “Dis belangrik om na die toekoms en die kulturele bydrae van die dorp se inwoners te kyk. Die projek het ook vaardigheidsontwikkeling en werkskepping ten doel. Ander doelwitte is leierskapsontwikkeling, entrepreneursontwikkeling, sosiale kohesie en nasiebou, jeugontwikkeling, argivering en versameling van die stories van die streek en om ’n volhoubare infrastruktuur te skep.

“Daar was voor die aanvang van die fees baie onsekerhede en vrae oor die toekoms van die KKNK en hoe dinge gaan uitspeel ná Covid. Vir die ATKV is dit egter belangrik om wel betrokke te raak. Ons het gevoel Karoo Kaarte is die beste en veiligste manier om die fees te ondersteun. Hopelik sal ons in die toekoms weer ’n stalletjie en ’n verhoog by die KKNK hê. Die ondersteuning van die kunste bly immers een van die belangrikste fokuspunte van die ATKV,” sê Gerrie.