Die ATKV ondersteun kuns- en kultuuraktiwiteite by die NWU

Kuns en kultuur speel ’n baie belangrike rol in die vorming van ’n individu se menswees. Op skool word leerders die geleentheid gebied om deel te neem aan ’n verskeidenheid kuns- en kultuuraktiwiteite, maar so dikwels gaan hierdie geleenthede verlore wanneer jongmense besig is met hulle tersiêre studies. By die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit sorg NWU Kunste dat daar wel meer as genoeg kanse vir studente is om steeds aan aktiwiteite soos debats-, toneel-, talent- en sêrkompetisies deel te neem. Dis dan ook hier waar die ATKV elke jaar verskeie studenteaktiwiteite ondersteun.
Jaco van der Walt, senior bestuurder van NWU Kunste by die Potchefstroomkampus, sê dis vir sy afdeling belangrik om platforms vir studente te skep om hulle talente verder te ontwikkel in allerlei kunsvorms. “Die ATKV se finansiële ondersteuning maak dit elke jaar moontlik vir ons om hierdie aktiwiteite interessant en lewendig te hou.”
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof vir kultuur, sê dat die ATKV daarop fokus om ook by studente se ontwikkeling en groei betrokke te raak. Regdeur ’n leerder se skoolloopbaan is daar genoeg geleenthede wat die ATKV skep om te kan presteer op kulturele vlak. Daarom is dit ook belangrik om dieselfde op tersiêre vlak te doen. “Ons glo dat dit belangrik vir ’n student is om nie bloot net op die akademie te konsentreer nie. Daar moet ook geleenthede wees om ander aspekte van sy of haar menswees te ontdek en om ander vaardighede te slyp. Daarom beskou die ATKV dit as noodsaaklik dat hierdie platforms aan die gang gehou moet word. Om hierdie rede ondersteun ons dus NWU Kunste op finansiële gebied.”
Die kultuurprogram by die NWU skop aan die begin van die jaar af met die eerstejaarskonsert. Daarna kom die Kampusdebat aan die beurt. Die ATKV is ook betrokke by die jaarlikse Kampustalentfees met al sy verskillende kategorieë. Ná afloop van die Pukki Talentfees vind die gewilde Enkelsêrkompetisie plaas. Die ATKV verleen ook finansiële hulp aan die Kampustoneelkompetisie vir koshuise.
“Die finansiële ondersteuning van die ATKV maak dit moontlik dat NWU Kunste prysgeld kan toeken aan die deelnemende studente, wat dit natuurlik baie aanloklik maak vir enige student om te wil deelneem. Die ATKV se borgskap stel ons ook in staat om kundige beoordelaars te nader en om seker te maak dat elke geleentheid van ’n baie hoë standaard is,” sê Jaco van der Walt.
Vir die ATKV is dit altyd besonder lekker om goeie resultate te sien. ’n Hele paar van die akteurs, regisseurs en filmmakers wat vandag prominent in die bedryf staan, het in ander rigtings soos ingenieurswese en aptekerswese gestudeer, maar is vandag in die vermaaklikheidsbedryf, juis omdat hulle die geleentheid gekry het om hulle talente op kampus te slyp. Dit sluit alumni van die NWU in soos Anna Davel, Tim Theron, Bennie Fourie, Deon Meiring en Katlego Maboe. Die lede van die gewilde groep, Rooksein, het mekaar juis by die jaarlikse Pukki Talentfees ontmoet waarvoor die ATKV elke jaar die pryse borg.
“’n Groep soos Flip a Coin, ’n a cappella-groep wat ’n dekade gelede groot sukses behaal het in die Afrikaanse ligtemusiekmark, het ontstaan nadat die studente van Veritas-manskoshuis daardie jaar se sêrkompetisie gewen het waaruit die groep toe gebore is. ’n Baie suksesvolle groep wat vir die ATKV ’n bewys is dat die geld wat ons hierin belê, deur en deur die moeite werd is,” sê Gerrie.
Vir Jaco en sy span bly dit belangrik om seker te maak dat studente ’n aktiewe studentelewe kan geniet. So word verskillende vaardighede ontwikkel wat die student eendag vorentoe mag nodig kry, beklemtoon hy. “Nie net word ’n student se talent ontgin nie, maar leer die student terselfdertyd om komplekse probleme buite die lesingslokaal op te los. Die NWU is baie trots op ’n op en wakker studentelewe, en ons is dankbaar teenoor die ATKV wat help om die kunste op die Potchefstroomkampus te ondersteun.”