Die ATKV ondersteun met trots die Adam Small-fees in Pniël

Die Adam Small-fees is in 2017 deur prof. Darryl David begin, ná hy vir jare lank oor die moontlikheid van só ’n fees gedroom het. Onder leiding van David en die PEKT (Pniël Erfenis- en Kultuurtrust) is hierdie fees jaarliks die trekpleister vir meer en meer besoekers wat na Pniël in die vallei tussen die Simons- en Drakensteinberge stroom om hul literêre siele te voed.
Die ATKV is reeds sedert die begin daarvan betrokke by die fees, meestal deur die ondersteuning vir jeugprojekte. Die Vriende van Afrikaans, ’n divisie van die ATKV, dra ook jaarliks by tot leesontwikkelingsprojekte en literêre gesprekke wat aangebied word.
In 2023 word die ATKV se ondersteuning van die fees selfs groter en as een van die amptelike borge van die fees, sal feesgangers op Saterdag, 25 Februarie ’n reeks gesprekke kan bywoon in die Pniël-museum se teetuin, wat deur die Vriende van Afrikaans aangebied word ná hulle ook in die voorafgaande week, in samewerking met die fees en ander belanghebbendes, leesbevorderingswerkswinkels aangebied het.
Saterdag, 25 Februarie om 11:00 bied die Vriende van Afrikaans ’n Ommietafelgesprek aan, met Chareldine van der Merwe as gespreksleier. Haar gaste is Jurgen McEwan (Arendsvlei-akteur, skrywer, opvoedkundige sielkundige, gemeenskapsteaterontwikkelaar en bekende seremoniemeester), Karien Brits (taalpraktisyn en deeltydse dosent: tale) en René Bogovic (PhD-student: sosiologie aan die Universiteit van Toronto en deeltydse dosent met ’n liefde vir tale).
Die ATKV bied ook met trots die fees se amptelike konsert, getiteld Klawerjas, aan op Saterdag, 25 Februarie in die teetuin.
Die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust is voorwaar dankbaar vir die ATKV en Vriende van Afrikaans se jarelange ondersteuning van die fees en die groei in ondersteuning aan die gemeenskap en haar projekte. Ons sien uit na die toekoms met vennote wat dieselfde visie as ons het – die bevordering en bewusmaking van Afrikaans onder almal.
‘Klawerjas’ – ’n ATKV-Crescendo-produksie
Kom deel in die wonder van ons taal en haar diverse musikale talent – kom trek haar aan soos ’n jas wat jou veilig en tuis laat voel.
Klawerjas is ’n musikale blyspel waarin nuwe en bekende Afrikaanse talent die kleurvolheid van Afrikaans en die legende van Adam Small vier.
Woordkunstenaars Petronel Baard, Keanu Harker en Die Hooflig bring elk hul unieke tentoonstelling in die vorm van musiek na hierdie geleentheid om die ikoniese Adam Small te vereer. “Ons doen dit in die hoop dat ander hul inspirasie in ons werk sal vind soos ons inspirasie in die werk van Adam Small gevind het,” sê Robin Fourie, (as rymkletser bekend as Die Hooflig) en voeg by, “Kreatiewe oomblikke met kreatiewe gesprekke kan net merkwaardig in eie reg wees … ons krap diep met hierdie een.”
Petronel Baard het nie vir ’n oomblik geskroom om ja te sê en deel te wees van die produksie nie en het onmiddellik ook twee gedigte van Small wat sy getoonset het vir die musikale regisseur aangestuur.
Volgens Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof: kultuur, leef die ATKV Afrikaanse taal en kultuur op ’n kreatiewe en inklusiewe manier uit. “Ons beskou onsself as verantwoordelike burgers wat ’n bydrae lewer om Suid-Afrika suksesvol te maak.”
Die ATKV is bekend vir sy kuns- en kultuurprojekte en het ’n ryk geskiedenis van 92 jaar. Een van die ATKV se doelwitte is om Afrikaans op ’n inklusiewe wyse uit te brei deur die ondersteuning van die Adam Small-fees. Dit is ’n fantastiese geleentheid, waar die ATKV en strategiese vennote deur gemeenskappe en kultuurgoedere trots Afrikaans en Suid-Afrikaans kan feesvier. Tydens dié geleentheid kry jonk en oud die kans om kreatief om te gaan met Afrikaans en die kunste. Deur die Adam Small-fees getuig die ATKV dat strategiese vennootskappe met Afrikaanse rolspelers en diversiteit nie ’n bedreiging is nie, maar ’n geleentheid om brûe te bou en om andersheid te omarm met egtheid en warmte. Dit is juis waarvoor die ATKV bekend is!
Kom geniet ’n aand van kwaliteit-vermaak en feesviering saam met Petronel Baard, Keanu Harker en Die Hooflig, begelei deur die Crescendo-orkes, onder leiding van die meesterlike William Jacobs, wat sal verseker dat elke oomblik vars, ritmies en vol lewensasem is.
Kunstenaars: Petronel Baard, Keanu Harker en Die Hooflig
Kreatiewe direkteur: Robin-Dean Fourie
Datum: Saterdag, 25 Februarie 2023
Tyd: 18:30
Plek: Pniël-museum-teetuin
Koste: R50 per kaartjie
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos na pnielmuseum@gmail.com of stuur ’n WhatsApp-boodskap na Janine by 072 245 1415.