Die ATKV se toneelaanbod is in 2024 simbioties!
Die ATKV se toneelaanbod is jaarliks verfrissend vir gehore en hou nie terug met kreatiwiteit en verrykende stories wanneer dit gemeenskappe landswyd in teaters opvoed, inspireer en bemagtig nie.
Vanjaar bring die ATKV weer sy drie toneelprojekte na gehore onder ’n nuwe inspirasie-tema: SIMBIOSE!
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV se toneelaanbod, meen dat hierdie inspirende tema die nuwe toneelseisoen ’n viering gaan maak van samelewing, wedersydse ondersteuning, intieme verhoudingsbou en samewerking met ’n gesamentlike doel om ons kinders die lig op die horison te wys en vir hulle ’n stem te gee sodat hul stories kan vlieg en ook ander se eiendom word.
Die toneelaanbod bied weer nuwe verrassings wat die volgende insluit:
DIE ATKV-TEKSRAAM
Die ATKV bring in 2024 ’n nuwe, simbiotiese inisiatief na ATKV-Tienertoneel en ATKV-Tjokkertoneel deur ’n teksraamwerk van nuwe tekste in verskillende genres vir aanbieding in 2025 te publiseer.
Hierdie konsep is gebaseer op die bekende Hollywood-ranglys (The Black List) van ongepubliseerde draaiboeke en sal ’n nuwe platform bied vir skrywers en teatermakers wat wil eksperimenteer en groei in teksontwikkeling. Hierdie teksraamwerk sal tydens die nasionale finaal in regstreekse potgooiformaat bekendgestel word, waar skrywers genooi sal word om oor hul nuutskeppings te kom gesels en met belangstellendes te netwerk. Gehore en teaterliefhebbers kan daar en dan hul hande op die tekskonsep kry om saam met die skrywer as ’n produksie vir die verhoog te vervaardig.
ATKV-AGENT VIR MEES BELOWENDE AKTEURS
Die ATKV word jaarliks deur produksiehuise genader vir die nuutste en beste talent wat die jaar opgelewer het. Die ATKV gaan daarom vanaf 2024 tydens die nasionale finaal ook ’n ATKV-agentlys saamstel en vir elke akteur ’n bemarkbare profiel as prys bou sodat hulle die industrie met selfvertroue kan ingaan. Dit is ’n verdere opwindende en geakkrediteerde geleentheid vir ons deelnemers wat presteer in die ontwikkeling van toneelvaardighede.
SIMBIOSE TUSSEN SKOLE
In die gees van SIMBIOSE (ná 60 jaar) kan skole nou hande vat en saam inskryf vir ATKV-Tienertoneel. Dit is die ATKV se wens dat meer en minder ervare skole juis hierdie geleentheid sal aangryp om saam hul talent te slyp, by mekaar te leer en toneelvaardighede in goeie gees te ontwikkel, terwyl gemeenskappe saam sosiale en ekonomiese uitdagings oorbrug.
’N AANLYN TEKSBIBLIOTEEK SIEN DIE LIG!
Die ATKV is van voorneme om as deel van ATKV-Tienertoneel se 60ste bestaansjaarvieringe ’n aanlyn toneelbiblioteek tot stand te bring, bestaande uit ’n versameling van uittreksels uit nuwe tekste wat jaarliks toekennings tydens streeksfeeste ontvang het.
Voornemende deelnemers wat na nuwe literatuur op soek is, kan sodoende die sinopsis, rolverdeling en ’n volledige toneel van die produksie op een plek deurlees en dan, deur die ATKV se toneelbiblioteek as netwerkplatform, die volledige teks en opvoerregte direk by die dramaturg bekom. Dit gaan ook opnuut ’n netwerk bied vir skole en teatermakers om in kontak te kom met jong en opkomende dramaturge wat nuutgeskrewe tekste ontwikkel.
‘GEKIES VIR DIE KOLLIG’ IS VIR ’N VIERDE SEISOEN TERUG!
Ons finaliste maak weer hul buiging op televisie met die ATKV se realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig, waarvan die vierde seisoen in Oktober 2024 hernu is op DStv-kanaal 147 (VIA).
Die opwindende ligging vir die stel van Gekies vir die Kollig (seisoen 4) is nog ’n geheim, maar kykers kan verseker wees van ’n simbiotiese leefstylervaring saam met die ontdekking van ons land se nuutste talent vir kamera.
As jy nog nie vertroud is met die ATKV se verrykende toneelaanbod nie, kan jy verder hieronder lees, en as jy wel is, kan jy sommer deurklik na die nuwe deelnemersgidse en inskrywingsvorms.
ATKV-Tienertoneel
Die ATKV-Tienertoneelkompetisie kweek ’n liefde vir toneelskepping in Afrikaans, toneelspel en teater-kyk by hoërskoolleerders.
Dié oudste projek van die ATKV is in 2024 sestig jaar jonk en bied steeds ’n platform vir talentontwikkeling en is ’n smeltkroes van kreatiwiteit.
Met ATKV-Tienertoneel word elke regisseur aangemoedig om vir die leerders soveel geleenthede moontlik te gee om by al die aspekte van die projek betrokke te raak, met ander woorde by die spel en regie, die skryf van tekste, kostuums, dekor, grimering, klank, beligting, verhoogbestuur, choreografie, ensovoorts.
Jy kan die deelnemersgids hier aflaai.
Inskrywings sluit op 19 April en die inskrywingsvorm is hier beskikbaar.
ATKV-Tjokkertoneel
Die doel van ATKV-Tjokkertoneel is die skep van ’n nasionale platform vir talentontwikkeling ter viering en opbou van laerskoolkinders deur toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan goeie literatuur aan te moedig.
Met ATKV-Tjokkertoneel word laerskole aangemoedig om jong leerders deur middel van mini-tonele aan teaterkuns en drama bloot te stel. Deur die opbouende proses van toneelspel ontwikkel kinders selfvertroue, kommunikasie- en luistervaardighede en verbreed hul woordeskat.
Kom leef dus jou liefde vir toneel uit en betower gehore op die ATKV-Tjokkertoneelverhoog met jou laerskool se beste mini-toneel.
Jy kan die deelnemersgids hier aflaai.
Inskrywings sluit op 19 April en die inskrywingsvorm is hier beskikbaar.
ATKV-DigiToneel
ATKV-DigiToneel is ’n voorloperplatform vir tieners om hul eie monoloë onder ’n nuwe temawolk te skryf en dan vir beoordeling te verfilm.
Die ATKV gaan hierdeur in sy doel slaag om ’n liefde vir toneelskepping en film te bevorder deur op kameraspel, kinematografie en die skryf van tekste te fokus.
Ons finaliste maak hul buiging op televisie met die ATKV se realiteitsprogram, Gekies vir die Kollig, wat op DStv-kanaal 147 (VIA) uitgesaai word.
Ontwikkel jou spel vir die kamera en gee jou skryftalent vlerke saam met ons mentors!
Jy kan die deelnemersgids hier aflaai.
Inskrywings sluit op 20 Maart en die inskrywingsvorm is hier beskikbaar.
Kontak gerus vir JJ van Niekerk (ATKV-toneelaanbod-projekorganiseerder) per e-pos by jj@atkv.org.za of via selfoon by 076 391 3414 vir enige navrae.