Die ATKV takel boeliegedrag
Meeste ouers kry die een of ander tyd met boelies te doen. Boeliegedrag is lankal nie meer net tot die skoolterrein beperk nie. Met die vooruitgang van tegnologie en slimfone het boeliegedrag veel meer, en erger, gedaantes aangeneem.
Boeliegedrag in Suid-Afrikaanse skole is ’n groeiende krisis wat al nasionale afmetings soos ’n epidemie aanneem. Byna 40% van leerlinge ervaar die een of ander vorm van boeliegedrag of afknouery, en een uit drie tieners is slagoffers van kuberafknouery.
Frik Roets, voorsitter van die ATKV-tak Vereeniging, en Sonél Brits, besturende direkteur van die ATKV-MSW, het onlangs op die sanger, Appel (Christoph Kotzé) se podsending, Appelkas, oor dié probleem gesels.
Op Appelkas word diep, rou en eerlike gesprekke gevoer oor werklike kwessies wat mense se lewens op alle vlakke raak.
“Ons sal nooit boeliegedrag heeltemal kan uitroei nie, maar ons kan met nuwe benaderings vorendag kom om ouers, onderwysers en kinders by te staan om die probleem vanuit ’n ander hoek te pak,” sê Frik.
Volgens Frik het Appel juis vir hom en Sonél genooi om oor die verskynsel te praat, omdat hierdie sanger se dogter self onder boelies deurgeloop het, tot so ’n mate dat hy haar uiteindelik uit die skool moes haal.
Frik dien al vir meer as 16 jaar op die beheerliggaam van skole en het eerstehandse kennis van boelies. Hy verduidelik dat “boeliegedrag ’n maatskaplike probleem is, en dat ’n kind wat ander kinders boelie, eintlik vir hulp vra omdat hulle self in die moeilikheid is.”
Daarom het hy besluit om in te gryp en te kyk hoe hy skole se beleid oor boeliegedrag kan verbeter.
“Dit is belangrik om die perspektiewe van al die partye in ag te neem. Die puisie bars gewoonlik by die skool, maar die oorsprong daarvan is baiekeer by die huis waar ouers dalk by die werksplek geboelie word en dan hierdie gedrag by die huis voortsit.”
Volgens navorsing deur die 1000 Women Trust, ’n Suid-Afrikaanse organisasie sonder winsoogmerk, is boeliegedrag ’n groot oorsaak van swak geestesgesondheid wat die risiko van selfdood onder die jeug kan vergroot.
Die organisasie dui ook aan dat sowat 100 000 leerlinge van die skool af wegbly weens boeliegedrag, terwyl daar 67% leerlinge is wat nie boeliegedrag aanmeld nie omdat hulle meen dat dit nie hulle situasie sal verander nie.
Frik wil deur middel van ’n opsommende dokument voorstelle maak oor hoe skole hul beleid só kan aanpas dat die slagoffer sowel as die boelie gehelp kan word.
Hiervoor is vraelyste aan ouers, onderwysers en lede van dissiplinêre komitees gestuur wat hulle voltooi het.
“Die data is ingesamel en die Universiteit van die Vrystaat sal die inligting wetenskaplik benader en ontleed. Daarna sal ’n volwaardige navorsingstuk met voorstelle gepubliseer word,” sê Frik.
Verder sal ’n dokument met kerngedagtes aan die lidskole van Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) en die ATKV-jeugtakke gestuur word.
“Dit gaan ’n gesaghebbende dokument wees wat van groot waarde vir die land se kinders, onderwysers en ouers kan wees,” vertel Frik.
Vir Frik is dit ook belangrik dat onderwysers ’n beradingskursus moet voltooi om die probleem met begrip op ’n sinvolle manier te bestuur en op te los.
“Meeste skole kan nie ’n berader bekostig nie, maar as daar net een onderwyser is met agtergrond in berading, kan dit van onskatbare waarde wees.”
Frik hoop dat dié insiggewende navorsingstuk sal help dat die beleid oor boeliegedrag by skole landswyd herskryf sal word. Hy verduidelik dat dit belangrik is dat daar na al die fasette gekyk moet word, en dat “hierdie navorsing as nuwe gereedskap moet dien om ’n nasionale krisis teen te werk”.
Kyk hier na die podsending: https://youtu.be/u5X2XXiZG14?si=TDfPa2hqVJcW6eTg