Die FakboiZ: Allesbehalwe alledaags
Die eksentrieke musiekgroep Die FakboiZ was vanjaar die naaswenners van Taalgenoot-RUK EN RYM.
Een van die groep se lede, Andrew Veldman, het tyd gemaak om ’n klompie vrae te beantwoord.
Goeiedag, Andrew – baie geluk met julle prestasie! Wie is die lede van Die FakboiZ?
“Dit is ek, Andrew ‘Kaptein Rofjol’ Veldman, Damian ‘Die Kaptein’ Strydom en Louwrens ‘Gebou-om-te-hou-Louw-bring-vir-jou-die-techno’ Labuschagne.”
Waar is julle groep gesetel?
“Ons is eintlik van drie verskillende plekke afkomstig, naamlik Boksburg, Plettenbergbaai en Stellenbosch. Al drie van ons operate hier bo en travel die skip van realiteit om shows te bliksem.”
Hoe sou jy Die FakboiZ se klank beskryf?
“Dreunend en brein-penetrerend.”
Vertel ’n bietjie van julle musikale reis?
“Ons verskiet deur die sterre, die tyd en ruimte met spoed, wysheid en insig.”
Hoe het julle as ’n musiekgroep begin?
“Deur die sterre wat align het, die sterre wat bymekaargekom het en gesê het, ‘Dit is tyd vir iets groot en motiverend’.”
Wie is julle grootste musikale invloede?
“Myself, as ek in die spieël kyk.”
Hoe voel julle oor RUK EN RYM?
“Heel positief, dit is lekker om te sien dat Afrikaanse musiekkompetisies weer aan die gang is.”
Het die kompetisie sedertdien julle loopbane en persoonlike lewens beïnvloed?
“Ja, net positief, hier gaat ons nou vir skatkiste vol goud.”
Het almal van julle ander werke?
“Ja, ek werk elke dag aan my drome en my drome is my day job.”
Wat is julle korttermyn- en langtermyndoelwitte?
“In die kort termyn is dit om beter, vinniger, meer spoed, wysheid en insig te verkry. In die lang termyn is dit om daardie spoed, wysheid en insig te gebruik om as die lewe druk, terug te druk en om doelwitte te bereik, soos om oorsee te gaan en een van die grootste alternatiewe Afrikaanse elektroniese dans- bontspringgroepe te word.
Is daar enige opkomende projekte of optredes waaroor julle opgewonde is?
Ja, elke liewe een van hulle. Dit is eenvoudig net ’n geleentheid om te leer, dit is ’n geleentheid om te groei en te verbeter en na grootheid toe te verskiet.