Die moedertaal se grondslag is onwankelbaar

As jy met ’n mens praat in ’n taal wat hy verstaan, verstaan hy met sy verstand. As jy met hom praat in sy eie taal, verstaan hy met sy hart.” – Nelson Mandela
Omdat taal so ’n emosionele kwessie is, voel die ATKV sterk oor ons – en ook ander taalgroepe – se moedertaal. Meer as nege dekades se ervaring in die wêreld van taal en kultuur onderstreep wat Madiba gesê het: ’n mens se moedertaal is ’n hartsding.
Doemprofete wil ons graag laat glo dat Afrikaans se dae getel is en dat ouers hul kinders liefs na Engelse skole moet stuur om toekomstige sukses te verseker. Maar luidens ’n verslag deur UNESCO, die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie, het navorsing bewys dat moedertaalonderrig nie net ’n sleutelfaktor is vir insluiting en gehalte-onderrig nie, maar dat dit leerders se leeruitkomste en akademiese prestasie ook verbeter. Veral op laerskoolvlak is moedertaalonderrig van kritieke belang, want dit versnel die spoed waarteen ’n kind leer (en begryp wat hy leer) en verhoed gapings in kennis.
Kinders wat bedrewe en gemaklik is in hul moedertaal het meer selfvertroue, pas makliker in en lewer meer betekenisvolle bydraes in die klas, skool en later in die gemeenskap. Goeie moedertaalvaardighede verseker dat die brein nie eers energie hoef te mors om ’n woord of begrip te verstaan nie – dié kognitiewe energie kan dadelik gebruik word vir kritiese denke en meer ingewikkelde leerprosesse, wat dit ook vir hulle makliker maak om wél ’n tweede taal te verstaan en daarin te leer, indien nodig.
Volwassenes kan dus baie deure oopmaak vir kinders deur te fokus op die ontwikkeling van ’n kind se moedertaalvaardighede. Dit verg nie spesiale vaardighede nie: of jy nou ’n grootouer, onderwyser, versorger of ouer is, het jy daagliks die kans om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak deur die kweek van ’n liefde vir ons moedertaal. Gesels in Afrikaans, speel Afrikaanse woordspeletjies, vul blokkiesraaisels in, luister saam na Afrikaanse musiek en kyk Afrikaanse televisieprogramme of rolprente. Lees daagliks vir jou kind (selfs vir ouer kinders) voor in Afrikaans – of dit nou ’n storie of ’n koerantberig is.
Só maak jy nie net die kinders in jou lewe trots Afrikaans nie, maar jy help ook vaardighede kweek wat hom of haar in staat sal stel om ons immer-veranderende, uitdagende wêreld met selfvertroue tegemoet te stap.
Die Vriende van Afrikaans se boektrommelprojek en voorleeswerkswinkels poog om moedertaalvaardighede te bevorder en om kinders van jongs af lief te maak vir Afrikaans. Om meer uit te vind oor die VVA, of om by te dra tot dié organisasie se werksaamhede, klik hier.