Die tafel is gedek!
Die ATKV se kultuurspyskaart vir 2023 is gereed om enige een te inspireer wat in hulself en in hul toekoms wil belê.
Gerrie Lemmer, die ATKV se uitvoerende hoof van kultuur, nooi jóú uit om vanjaar saam aan tafel te sit en die verskil te wees.
“Kunstenaars dra by tot die verwerkliking van ’n nuwe wêreld. Deur hul sang en musiek, opvoerings en konserte, drama en digkuns, debatte en dialoog tree hulle op as profete van menswaardigheid, geregtigheid en vryheid.
Die helder visie van die nuwe help kunstenaars om die oue van verkeerdheid, boosheid en lelikheid skerp en helder te kritiseer. Hulle lewer kritiek wat ontstel, ten einde te herstel.
Kunstenaars vertel ook die verhale van mense wat nie die nuus en kalklig haal nie. Hulle vertel die verhale van verontmensliking en swaarkry, van onreg en verdrukking. Hulle verseker dat die stryd van swaarkrymense aan die rand van die samelewing nie in vergetelheid verdwyn nie.
Kunstenaars vertel eweneens die verhale van hoop en blydskap. Ja, hulle herinner aan daardie klein dade van menswaardigheid en geregtigheid, van bevryding en liefde wat meermale verswyg of onderskat word.
Kunstenaars se helder visie, moedige openbare kritiek en empatiese storievertelling beïnvloed ons openbare denke en openbare gesprekke. Dit impakteer positief op ons individuele keuses en aksies. Dit vorm ons inklinasies, motiewe, begeertes, emosies, keuses en praktyke, sodat dit in diens staan van ’n goeie en mooi wêreld.”
Laai die spyskaart hier af en belê in jouself.