Die toekoms van die ATKV-Skryfskool
Toe die ATKV in Januarie 1990 by die ATKV-Skryfskool aan die NWU betrokke geraak het, was ons kernopdrag baie duidelik: help om die Afrikaanse letterkunde te bevorder.
Die ATKV se visie – om die Afrikaanse taal, kultuur, kennis en kreatiwiteit onmisbaar en aktief deel te maak van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika – is onderstreep én verder uitgebou deur elke skrywer wat die afgelope 33 jaar by die ATKV-Skryfskool ontdek en geslyp is.
Ons missie – om proaktief en op ’n volhoubare wyse na die diverse taal- en kultuurbehoeftes van die Afrikaanssprekende gemeenskap om te sien, terwyl ons ook aktiewe deelname van die breër Suid-Afrikaanse en internasionale gemeenskappe verwelkom – het ook nie agterweë gebly nie. Die ATKV se uitnodigende benadering het beslis daartoe bygedra dat al die verskillende variëteite van die Afrikaanse taal soos dit oor die jare nagevors en deur wetenskaplikes bevestig is, nou breë erkenning geniet. Die ATKV het ook nog altyd aan al die ander inheemse tale in Suid-Afrika erkenning gegee, soos duidelik geblyk het uit verskillende projekte oor die jare.
Teen die agtergrond van ons visie en missie is dit daarom vir die ATKV des te meer belangrik om saam met die NWU se Skool vir Tale te besin oor die toekomstige besigheidsmodel van die ATKV-Skryfskool.
Hoewel ons saamstem dat ’n hersiening van die samewerkingsooreenkoms rakende die ATKV-Skryfskool op die Potchefstroomkampus nodig is, wil ons dit onomwonde stel dat die ATKV-Skryfskool as ’n handelsmerk steeds bestaan. Die skool se werksaamhede was nooit tot die NWU-kampus beperk nie, en skryfkursusse vind ook elders in die land onder hierdie vaandel plaas. Verskillende ATKV-skryfwerkswinkels wat nasionaal aangebied word, is toegespits op die ontwikkeling van opkomende skrywers, met ’n sterk fokus op die verskeie variëteite van Afrikaans, kontreistories en ook verhale van meer kommersiële waarde. Verskeie publikasies het al ná afloop van sulke werkswinkels die lig gesien, aangesien deelnemers hul skryfwerk vir addisionele hulp kan stuur en ook per e-pos gementor word. Die pandemie het ons ook geleer dat aanlyn werkswinkels ewe suksesvol kan wees.
Aspirantskrywers sal bly wees om te hoor dat ons reeds besig is om ’n ATKV-skryfskool te beplan. Belangstellendes wat meer inligting verlang, is welkom om ’n e-pos na atkv@atkv.org.za te stuur.
Die ATKV is onbeskaamd trots op ons pragtige taal, wat in die breër Suid-Afrikaanse konteks steeds ’n magtige instrument is. Nie net vir die doeleindes van kommunikasie nie, maar ook om mure tussen Suid-Afrikaners af te breek en wedersydse respek vir mekaar se moedertale aan te moedig. By toekomstige ATKV-skryfskole sal die benadering binne ’n meertalige konteks egter altyd fokus op die bevordering en uitbou van Afrikaans, maar nooit tot die nadeel van ander taal- en kultuurgroepe nie.
Die ATKV wil dit benadruk dat die ontwikkeling en koestering van skryftalent in Afrikaans vir ons kernbelangrik bly. Die skryfkuns is ’n kragtige manier om Afrikaans as mondstuk vir die taal se sprekers in te span, maar ook as weerspieëling van die tydsgees en om die status quo uit te daag.
Ons betrokkenheid by die ATKV-Skryfskool is egter nie die enigste manier waarop ons die Afrikaanse letterkunde en skryfkuns ondersteun nie. Ons ondersteun ook die organisasie Afrikaanse Skrywers en Mentors (ASEM), wat hulle beywer vir die ontwikkeling en mentorskap van aspirantskrywers. ASEM staan onder leiding van Elias P. Nel, self ’n skrywer en ook ’n ou bekende in ATKV-kringe, veral bekend vir sy groot bydrae tot die herlewing van die rieldans en die ATKV se rieldansprojek. Ons sien uit om te sien watter skryfjuwele Elias en direksielede soos dr. Marni Bonthuys en die skrywer Anzil Kulsen (’n ATKV-personeellid) gaan help ontdek.
Ons werk ook ten nouste saam met die regeringsdepartemente van sport, kuns en kultuur en ander vennote, soos die Prins Albert-leesfees en ander feeste, onder andere die ATKV-Boeke-oase op kunstefeeste.
Ander projekte gemik op die bevordering van die Afrikaanse skryfkuns, sluit in ATKV-leeskringe en die ATKV-Woordveertjies, wat uitsonderlike bydraes ten opsigte van die Afrikaanse woord bekroon. Die ATKV-Kinderboektoekennings, wat jong Afrikaanse lesers toelaat om self hul gunstelingleesstof te bekroon, is enig in sy soort.
Ons is ook baie trots op die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n afdeling van die ATKV, se werk om lees onder kinders te bevorder. Dit word onder andere gedoen deur die oorhandiging van 60 tot 80 boektrommels (ter waarde van R8500 per trommel) per jaar aan kleuter- en laerskole en deur voorleeswerkswinkels wat vir onderwysers en ouers aangebied word. Dit is natuurlik belangrik om te onthou dat die lesers van vandag, môre se skrywers gaan wees.
Die VVA bied ook leeskonferensies aan in samewerking met skrywers en uitgewers en lees ook weekliks boeke voor op Radio Kaapse Kansel, in samewerking met LAPA Uitgewers en skrywers.
Wees dus verseker daarvan dat die Afrikaanse skryfkuns steeds vir die ATKV van uiterste belang is.