Die verhoog wag: Ruk en Rym-semifinaliste bekend
Taalgenoot-Ruk en Rym word in 2026 vir die vierde keer aangebied en vanjaar se semifinale rondes, wat eersdaags in Gauteng en die Wes-Kaap plaasvind, beloof om alternatiewemusiekaanhangers weer aan die varsste stemme in Afrikaans voor te stel.
Ruk en Rym bied ’n platform vir alternatiewe musikante wat musiek met Afrikaanse lirieke maak. Dat die kompetisie vanjaar net meer as 80 inskrywings ontvang het, getuig van ’n lewendige belangstelling in platforms wat alternatiewe musiek vooropstel.
Twintig semifinaliste is uit 2026 se inskrywings gekies om aan die semifinale rondes van Ruk en Rym deel te neem.
Die semifinaliste is:
Semifinaal 1:
Amapretty Records
Arrie G
Gktimo
Hoofmeisie
Janco Mouton
Katjie
Luzelle
Mr Moody
Pous Calla
Toordokter
Semifinaal 2:
Arthur Steele
Konstant Wiesner
Landi Lu
Lelies en Roos
Likkewaan
Nagbreek
Ninoeh
Nog Meer
Tatum
TWO
Die eerste semifinaal vind op 29 Augustus by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch plaas, terwyl die tweede semifinaal op 12 September by Railways Café in Centurion gehou word. Die kompetisie se finaal is op 4 Oktober deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees se amptelike program.
Die keurders vir die eerste ronde van beoordeling was Jaco van der Merwe, ook die kreatiewe regisseur van Taalgenoot-Ruk en Rym, Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar/Die Heuwels Fantasties), die kletsrymer Jerome Rex, TV- en radiopersoonlikheid Lundi Khoisan en Wendy Verwey Bekker, ’n uitvoerende beampte in die musiekbedryf.
Jaco meen Ruk en Rym is in sy vierde jaar ’n toonaangewende kompetisie wat unieke geleenthede aan deelnemers bied.
“In die vierde jaar van die kompetisie het die diversiteit van die inskrywings my weer getref – ons het inskrywings vanuit alle hoeke van die land en in verskeie genres ontvang. Ruk en Rym is regtig ’n platform soos geen ander nie wat plek maak vir hierdie soort authentic expression. Dis so ’n joy om die musiek te hoor, en dis vir ons amazing dat jy hier gehoor en waardeer word en die kans kry om jou musiek op ’n lekker verhoog met ’n groter gehoor kan deel,” sê hy.
Angie Gallagher, assistentregisseur van Taalgenoot- Ruk en Rym, sê die span agter die kompetisie is trots daarop dat dit geleenthede skep wat nie elders beskikbaar is nie.
“Die ATKV is daarop toegespits om geleenthede in Afrikaans te skep, en Ruk en Rym is sprekend hiervan. Die inskrywings is elke jaar vernuwend en vars, en ons sien geweldig uit om te hoor wat vanjaar se semifinaliste na die verhoog bring.”
Die 20 semifinaliste kry nou die kans om hul staal tydens die semifinale rondes te wys en ’n plek in die finale ronde uit te spook. Groot pryse, insluitend kontantpryse, is weer vanjaar op die spel.
Die beoordelaars van die semifinale rondes en die finaal is Jaco van der Merwe en die musikante Paul Riekert en Augusta Zietsman, tesame met ’n nuwe toevoeging tot die beoordelaarspaneel wat self ’n Ruk en Rym-alumnus is, die liedjieskrywer Janke Mostert.
’n Gasbeoordelaar sal ook by elke semifinaal en by die finale ronde help om die wenner van Ruk en Rym 2026 te bepaal. By semifinaal 1 in Stellenbosch is die kletsrymer Ready D die gasbeoordelaar en verlede jaar se Ruk en Rym-wenner, Magé, die gaskunstenaar, terwyl feesorganiseerder Johan Auriacombe by semifinaal 2 die gasbeoordelaar is en Ruk en Rym-alumni Bcom as gaskunstenaars optree.
Sien ons jou daar? Kaartjies vir die semifinale rondes is binnekort beskikbaar – hou asseblief Ruk en Rym se Facebook- en Instagram-blaaie dop vir meer inligting oor hoe om jou kaartjie te kry.