DigiToneel 2026: Top-8 is bekend!
Die lug het dik geword van afwagting. Die kompetisie het dieper begin asemhaal, en nou bly net agt deelnemers oor...
Die ATKV is trots om ATKV-DigiToneel 2026 se top-8 aan te kondig – jong kunstenaars wat die afgelope rondes bewys het dat hulle nie net stories kan skryf nie, maar dit ook met eerlikheid, intensiteit en kamera-teenwoordigheid kan laat leef.
Vanjaar se tema, “Asem”, het deelnemers uitgedaag om die oomblikke tussen woorde te ontdek. Die stiltes. Die spanning. Die emosies wat soms net in ’n enkele asemteug vasgevang word. En dit was juis hierdie vermoë wat die mentors moes beoordeel toe hulle die moeilike taak gehad het om ’n sterk top-16 te verminder na slegs agt finaliste.
Met elke inskrywing wat beoordeel is, het die spanning toegeneem en die keuse moeiliker geword. Uiteindelik het die mentors besluit op agt deelnemers wat uitgestaan het vir hul oorspronklike stemme, sterk spel vir die kamera en die vermoë om kykers van die eerste asemteug tot die laaste vasgenael te hou.
’n Asemrowende avontuur wag op hierdie top-8-deelnemers.
Op 6 en 7 Julie word hulle genooi na die stel van Gekies vir die Kollig, waar hulle hul mentors – Bianca Flanders, Jacques Bessenger, Karli Heine en Liezl de Kock – vir die eerste keer persoonlik sal ontmoet. Hier sal hulle hul strategie verfyn, kameravaardighede slyp en voorberei vir die finale ronde wat uiteindelik sal bepaal wie vanjaar se DigiToneel-kampioen word.
Die finale ronde sal beoordeel word deur die bekroonde akteur Wilhelm van der Walt en aktrise, asook wenmentor van Gekies vir die Kollig seisoen 5, Hannah Borthwick. Hulle sal die taak hê om te bepaal wie vanjaar die kroon dra en met die R10 000-kontantprys wegstap.
Terwyl die finaliste hul volgende asemteug neem, begin die aftel na die sesde seisoen van Gekies vir die Kollig – wat vanaf 6 Oktober op VIA (DStv-kanaal 147) op jou skerm begin asemhaal – die tuiste van die ATKV-DigiToneelfinaal, waar jy hulle reis oor vier episodes kan volg en uitvind wie met die kroon gaan wegstap.
Die ATKV-DigiToneel-top-8 van 2026 is:
|
Naam en van |
Produksie |
Skool |
|
Anzelle Vorster |
Vlug of Veg |
Hoërskool Noordheuwel |
|
George William Grové |
Presteer |
HTS Witbank |
|
Jana Enslin |
(Un)popular |
Helpmekaar Kollege |
|
Markus Knop |
Waak |
Hoërskool Noordheuwel |
|
Renier Pieterse |
Aan die eenkant |
Hoërskool Garsfontein |
|
Ruanco Ueckermann |
Monsters |
Leeuwenhof Akademie |
|
Vian van Breda |
Side swipe |
Hoërskool Waterkloof |
|
Zahné Durand |
Suurstofdief |
Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria |
Kyk hier na die bekendstellingsvideo van die top-8: