Digkunsleiding in ’n digtersdorp
Die Sutherlandse Louwhuis en -museum en die ATKV-Skryfskool bied binnekort ’n poësiewerkswinkel aan.
Waarom gedigte wil skryf? Wat maak gedigte anders as ander soorte kreatiewe skryfwerk? Met ander woorde: Watter kommunikasie- en skeppingsmiddele is spesifiek van toepassing by die skryf van poësie? En op watter lees, indien dit bestaan, kan ’n mens ’n beslissing skoei oor die “treffendheid”, selfs “gehalte” van ’n gedig?
Vir woordgevoeliges wat nog effens “dig” voel as hulle pen op papier of vinger op sleutelbord plaas om ’n gedig op te tower: Die Louwhuis en -museum (LH&M) op Sutherland bied ’n geleentheid om saam oor vrae soos bostaande na te dink, die middele en werkinge van geslaagde poësie te verken – én om dit op eie digpogings toe te pas.
Bernard Odendaal, Afrikaanse digter, digkunskenner en voormalige direkteur van die ATKV-Skryfskool, sal op Vrydagmiddag 18 Augustus en Saterdagoggend 19 Augustus 2023 ’n poësiewerkswinkel op die Roggeveldse plaas Klipkraal buite Sutherland lei. Die herhaaldelik bekroonde digter en rubriekskrywer Danie Marais sal by hom aansluit om van sý sienings en wenke oor die digkuns met kursusgangers te lug.
As deel van ’n genotvolle naweek van kennismaking met die LH&M en ander besienswaardighede in en rondom Sutherland, sal die poësiewerkswinkel tussen 17:00 en 20:00 op die Vrydag, en tussen 09:00 en 13:00 op die Saterdag plaasvind. Daarna word uitstappies beplan na die Louwhuis, na die plaaslike NG Kerk om ’n kort uitvoering op die manjifieke orrel daarin by te woon en, vir diegene wat nog ’n nag wil oorbly, na ’n plaaslike observatorium vir heerlike sterrekykery.
Voornemende kursusgangers lê twee eie gedigskeppings voor by inskrywing vir die werkswinkel. Naas gesprekvoering oor die skeppingsmiddele tot ’n digter se beskikking sal praktiese toepaslikmaking daarvan in die digwerk van ingeskrewenes aan die beurt kom. Die grootwordkontrei van die Afrikaanse digterbroers N.P. Van Wyk Louw en W.E.G. Louw dien as inspirerende ruimte waarbinne die werkswinkel plaasvind.
Die ATKV-Skryfskool (ASS) tree as vennoot van die LH&M op in die aanbied daarvan. Reeds meer as 30 jaar lank staan die ASS opkomende skrywers en digters met sy kortkursusse by om ’n eie koers in te slaan binne die Afrikaanse skryfwêreld. Na berekening het meer as 6 000 publikasies deur oud-kursusgangers van die Skryfskool reeds die lig gesien.
Die inskrywingskoste van die werkswinkel beloop R250. Bywonergetalle word beperk. Skryf dus voor of op 4 Augustus aan Gerard Scholtz by diebeiteltjie@louwhuis.co.za of skakel 083 388 8209 om inskrywings te verseker. Verblyfkoste en ander uitgawes sal aan belangstellendes verskaf word by inskrywing. Om die LH&M se nuusbrief te ontvang, skryf eweneens aan bogenoemde e-posadres.