‘Dit is ... Jodi Jantjies’ slegs een aand in Gauteng

Op 18 Junie 2021 sal Gauteng eerstehands die sangtalent van Jodi Jantjies kan beleef wanneer sy by die Pierneef Teater in Pretoria optree.
Vir Jodi is hierdie die ideale geleentheid om te kom vertel hoe ATKV-Crescendo haar lewe radikaal verander het. Dit is … Jodi Jantjies is die eindproduk van ’n vyf jaar lange pad en ’n lewenslange droom wat bewaarheid word.
“Ons droom van kleins af van ons graag eendag wil doen. Vir dié van ons vir wie musiek in ons are vloei, is daardie droom altyd lewendig,” sê Jodi.
“Ek wil mense help om hul drome te bewaarheid en watter beter maand as Jeugmaand.
“Die wins van my optrede in Gauteng gaan gebruik word om vir die drie Gauteng-finaliste van ATKV-Crescendo 2021, Eveline de Vries, Idolene Isaacs en Leanne Haas, dit moontlik te maak om die mentorprogram in Julie by te woon.”
Die produksie word deur Melvin Williams vervaardig en bekende Gautengse musikante sal Jodi begelei. Jodi sal ook die verhoog met Eveline, Idolene en Leanne deel.
Dit is … Jodi Jantjies is ’n blyspel van Jodi se eie werk, maar sluit ook ou gunstelinge van Sonja Herholdt en Anneli van Rooyen in. ’n Paar “koortjies” wat Jodi in haar eie styl verwerk het, is ook deel van die program.
“Jodi se eerlike en sielvolle vertolking sal die gehoor meevoer en hulle sal ná die vertoning met ’n lied in die hart by die teater uitstap. Iets wat ek glo mense veral nou nodig het,” sê Morné van Staden, projekorganiseerder van ATKV-Crescendo.
Kom beleef hierdie “magic” geleentheid saam met ons en word deel van die Jodi-droom ...
Die vertoning op Vrydag 18 Junie begin om 19:00. Kaartjies kos slegs R100 en is beskikbaar by info@pierneefteater.co.za of stuur ’n WhatsApp na 072 460 5568.