Doen, leer en glo weer in jouself
’n Kind wat sukkel om te lees verloor dikwels veel meer as net die draad van ’n sin. Mettertyd kan selfvertroue ook begin verdwyn. Dít is juis waar die Doen en Leer-leesprogram volgens oudonderwyser Dokka Swart van die Vriende van Afrikaans (VVA) ’n verskil kan maak.
Dokka, wat reeds 26 jaar met die program werk, het op Dinsdag 4 Augustus ’n praktiese werkswinkel as deel van die voorprogram van die Karoo-toneelfees by die Victoria-Wes Gekombineerde Skool aangebied. Die program is deur die VVA moontlik gemaak. Drie opvoeders het die program bygewoon en saam met ’n groep leerders prakties deur die verskillende stappe gewerk.
Die uitgangspunt is eenvoudig: ’n kind leer nie net deur na woorde op papier te kyk nie. Die program kombineer die visuele en ouditiewe met beweging, klank, herhaling en assosiasie. Kinders moet eers leer klank sodat hulle die uitspraak van die woord kan hoor. Die kind moet sien, hoor én doen.
“Die intervensie is dikwels die laaste uitweg,” verduidelik Dokka. Daarom is die heel eerste les vir haar van kardinale belang. “Die eerste les gee vir hulle selfvertroue.”
Sy begin nie met ingewikkelde leesstukke nie, maar by die kind self.
Die eerste stap is skryf. Deur ’n kind sy of haar naam te laat skryf, begin sy reeds agterkom waar die struikelblokke lê. Daarna volg een van die eerste woorde wat die leerder baasraak: “Ek”.
Van daar word werkwoorde bygevoeg. Die kinders moet die aksie uitvoer terwyl hulle die woord sê en herken. Hulle beweeg, dramatiseer en speel. Só word ’n woord nie bloot iets op ’n kaartjie nie, maar iets waarmee die kind ’n konkrete assosiasie kan maak.
Die volgende stap is geheuewerk. Woorde word weggesteek en leerders moet dit identifiseer, onthou en met woordkaarte werk. Daarna begin die sinne vorm aanneem: “Ek” + ’n werkwoord.
Wanneer die kind die eenvoudige sin kan lees, word daar stadig uitgebou. Daarna volg werk in die werkboek – teken, inkleur, klanke herken en skryf.
“Die eerste les is só belangrik vir die kind. As hy dit onder die knie het, sit jy elke dag ’n ekstra woordjie by,” vertel Dokka.
Vir Ashley Amid, ’n assistentopvoeder, was dit juis die praktiese “doen”-gedeelte wat uitgestaan het.
“Die deel wat ek die meeste geniet het, was die ‘doen’ van Doen en Leer. Een seuntjie het aanvanklik nie geweet wat die woord ‘eet’ beteken nie, maar toe hy die aksie sien, het hy dit onmiddellik verstaan. Hierdie praktiese benadering gaan my baie help met die naskool.”
Angelique Smit van die Hutchinson Primêre Skool, waar baie van die kinders van plase afkomstig is, sê die gebruik van aksiewoorde het vir haar gewys hoe vinnig ’n kind se begrip kan verander. Maar vir haar was die merkbare verskil in die kinders se houding nóg belangriker.
Joanne Phillips werk met vier leerders wat deel van ’n intervensiegroep vorm.
“Die kinders se bywoning is swak en ek moet só druk om werk in te haal. Selfs as onderwyser raak ek soms gefrustreerd. Ek sien nou ek moet net geduldiger raak en hulle op hierdie manier onderrig,” vertel sy.
Die werkswinkel het ook iets in háár wakker gemaak.
“Die aksie saam met die woorde het my sommer nou weer lus gemaak vir opvoeding.”
Volgens Dokka het die entoesiasme van die drie opvoeders haar opgeval.
“Hulle het die stappe baie vinnig gesnap, en dit was besonders om te sien hoe oulik hulle met die kinders praat. Hulle sien ’n plek vir die program en hoe hulle dit tydens intervensie kan toepas.”
Hoewel die metode in ’n vol klas soms moeiliker is om toe te pas, sê Dokka dat onderwysers individuele elemente daarvan kan gebruik wanneer die proses in kleiner dele opgebreek word. Sy vertel dat wanneer sy opleiding aanbied, onderwysers dikwels ’n leerder na haar bring wat sy nog nooit tevore ontmoet het nie, sodat hulle prakties kan sien hoe die benadering werk.
Volgens haar word die program reeds deur duisende mense gebruik en word daar ook aan aanlyn pakkette gewerk, waardeur nog meer opvoeders toegang tot die materiaal kan kry.
Maar deur al die stappe, woordkaarte, bewegings en oefeninge bly die belangrikste beginsel eenvoudig: die kind moet weer ervaar dat hy of sy kán.
“Ons gaan speel,” sê Dokka.
En soms begin ’n kind se pad terug na lees juis daar deur te speel met ’n woord, ’n beweging en die eerste klein oorwinning wat sê: “Ek kan.”
Vir meer inligting oor die Doen en Leer-leesprogram of die VVA, kontak vir Chareldine van der Merwe by chareldinev@vva.atkv.org.za.