Drie rolle en gelukkige dertien vir Ruben
“Sjoe, wat ’n talentvolle akteur! Ruben glip naatloos tussen kostuums en karakters. Hy bring verskillende soorte energie na elke toneel.” – JJ van Niekerk, ATKV-Tjokkertoneel-projekorganiseerder
Op die jeugdige ouderdom van dertien het Ruben Pfaff die ATKV Tjokkertoneeltoekenning vir die beste akteur verwerf vir sy vertolking van nie minder nie as drie rolle in die drama Dertien, aangebied deur die Laerskool De Hoop.
Die saadjies wat ontkiem het in sy oorwinningsoomblik is egter vroeg reeds gesaai. Ruben is van kindsbeen af dol oor drama, danksy sy ma wat hom van kleins af teater toe geneem en aan eistedfodds laat deelneem het, en aan sy ouer broer en suster wat reeds in produksies opgetree en saam met hom vir hul ouers konsert gehou het. Dit alles het hom verder geïnspireer – en ongeduldig gelaat om sy eie eerste buiging op die planke te maak.
’n Paar optredes later het hy sy Dertien-driekuns behaal met sy vertolking van Alexander Lombard, Juf. Geduld en die busbestuurder.
Aanvanklik, vertel hy, moes hy kopkrap om in drie karakters met baie verskillende persoonlikhede se skoene te klim. “Maar danksy mnr. Jumat se leiding en sy vermoë om drama so lekker te maak, kon ek myself uiteindelik in al die karakters inleef en hulle geniet,” vertel hy.
Sy voorbereiding vir en deelname aan Dertien het vir Ruben laat besef hy is mal daaroor om as deel van ’n produksiespan te werk en sáám suksesvol te wees. “Ek het ook geleer ek moet nooit bang wees om nuwe uitdagings voluit aan te pak om my potensiaal te ontdek nie, en dit het my passie vir drama verder laat groei,” vertel hy.
Die temas van Dertien het eweneens vir Ruben tot diep nadenke gestem. “Die storie het my daaraan herinner dat almal hul eie uitdagings het en dat ons as mense mekaar nodig het,” verduidelik hy.
“Temas soos disleksie, boeliegedrag, kinders wat sonder ouers moet grootword en die manier waarop die hoofkarakter, Lexi, haar uitdagings moes hanteer, het my ook laat besef hoe bevoorreg ek is.”
Ruben sê toe sy naam as beste akteur van ATKV-Tjokkertoneel 2024 aangekondig word, was hy amper in skok. “Ek het nooit gedink een van my grootste drome gaan nou al waar word nie,” vertel hy.
“Ek is so bevoorreg om hierdie toekenning te kry; dit bring my nog ’n treetjie nader aan my volgende droom; eers wil ek in Afrikaans act, dan wil ek in Suid-Afrikaanse films en reekse speel, en dan ... wie weet – dalk Hollywood...” mymer hy.