Drome kán waar word, sê Woordveertjie-wenners
Dit was van meet af ’n wenkombinasie: Megan Werner se wonderlike en inspirerende, maar ook hartseer verhaal en ’n bekwame joernalis wat lankal daarvan droom om eendag ook storieboeke te skryf. Die bekende nuusleser en joernalis by eNuus, Daniëlla van Heerden, was dadelik vuur en vlam toe Miemie du Plessis van Pan Macmillan SA haar gekontak het om te hoor of sy die verhaal van Megan Werner as tienerfiksie sal neerpen. Megan het in 2019 die verbeelding aangegryp toe sy en ’n span tieners ’n monteerstel gekoop het en eiehandig ’n Sling 4-skroefvliegtuig gebou het en van Kaapstad tot in Kaïro gevlieg het.
Dié boek, As jy droom, het in 2021 by Pan Macmillan SA verskyn en is vanjaar op 13 September met ’n ATKV-Woordveertjie in die ATKV-Kinderboektoekennings se selfleeskategorie vir graad 6- en 7-leerders bekroon. Die beoordelaars van hierdie kategorie is niemand anders nie as die jong lesers self en daarom is hierdie Woordveertjie werklik besonders en welverdiend.
Soos die titel sê, begin alles by ’n jong tienermeisie met ’n droom om iets merkwaardigs te doen. Megan het op die ouderdom van 15 saam met haar pa begin vlieg. Sy het tóé reeds haar eie boek, It’s Up to Me, geskryf. Hierdie motiveringsboek is geskryf nadat Megan ’n selfontwikkelingskursus van die Amerikaanse lewensafrigter, Tony Robbins, in Londen bygewoon het. Die tiener het swaargekry, want sy is erg geboelie en het nie eintlik vriende gehad nie. Megan het die vaardighede wat sy tydens die kursus geleer het, gebruik om haar lewe om te draai. Sy wou hierdie reis met ander jongmense deel, en het It’s Up to Me geskryf. Megan se boek is ook in Russies vertaal en sy het boekpraatjies regdeur Rusland en ook in Kazakstan gedoen.
Megan het daarvan gedroom om iets buitengewoon en inspirerend aan te pak. “Wat daarvan as ek en ’n paar ander tieners vanaf Kaapstad tot in Kaïro vlieg?” het sy vir haar pa gevra. Hy het haar meegedeel dat daardie doel reeds deur ’n ander groep tieners bereik is. Dan maak ek my droom nóg groter, het sy besluit. Haar plan was om saam met ander jongmense ’n vliegtuig te bou en dan daarmee van Kaapstad na Kaïro te vlieg. Nadat sy ’n advertensie vir ’n monteerstel op Instagram gesien het, het sy die U-Dream Global-stigting op die been gebring en die bal aan die rol gekry. 20 jongmense is uit die oorvloed aansoeke gekies en hulle het aan die werk gespring en die Sling 4-vliegtuig aanmekaargesit.
Dit was ’n reusetaak om die geld bymekaar te kry vir die projek, maar teen 2019 was alles gereed. Saam met vyf ander tienerhulpvlieëniers het sy en Driaan van den Heever, haar jong medevlieënier, die tog aangepak en ná vele wonderlike en senutergende avonture op 8 Julie 2019 in Kaïro geland.
Megan se verhaal is egter nie net rooskleurig nie. Op pad terug na Suid-Afrika het die ondersteuningsvliegtuig van haar pa, Des, en sy medevlieënier, Werner Froneman, wat ook die fotograaf van die projek was, geval net nadat dit opgestyg het by die Tabora-lughawe in Tanzanië. Hulle is albei dood in die vliegongeluk.
“Pan Macmillan SA het my gekontak en gevra of ek sal instem dat ons hierdie ware gebeurtenis as ’n storieboek uitgee. Ek het dadelik ingestem, want ek sou graag self die storie wou vertel, maar ek het besef dat dit makliker sou wees om dit uit te gee met die ondersteuning van ’n goeie uitgewer. Nadat ek Daniëlla vir die eerste keer ontmoet het, het ek geweet my storie is in veilige hande, want ons het onmiddellik baie goed oor die weg gekom,” vertel Megan.
Met die eerste ontmoeting het die twee besluit dat hulle mekaar ’n hele paar keer sal sien, sodat Megan vir Daniëlla van die hele ervaring kan vertel. COVID-19 se streng inperkingstyd het egter ’n stokkie voor hierdie planne gesteek. Tog het die twee hulle nie laat stuit nie. Daniëlla se dogtertjie, Simoné, is net voor die inperking op 25 Maart 2020 gebore en so tussendeur doeke ruil en voedingstye het sy die boek geskryf. Megan het van haar kant stemnotas per WhatsApp gestuur, waarmee sy haar hele verhaal aan Daniëlla vertel het.
“Dit was ’n wonderlike geleentheid wat oor my pad gekom het,” sê Daniëlla. “Ek het die storie gevolg van die avontuurlike klompie tieners en hulle groot drome. Daardie tyd was ek reeds ’n nuusleser, maar ek het gewens ek was nog ’n veldverslaggewer om verslag daaroor te kon doen. Ek glo enige joernalis of iemand wat van ’n goeie storie hou, sou die potensiaal in Megan se verhaal gesien het. Meteens is ek gedwing om iets te doen waaroor ek nog net altyd verreweg gedroom het. Dit was die nodige inspirasie om aan die skryf te kom, want ek kon nie nee sê vir so ’n ongelooflike geleentheid nie.”
Megan is vanjaar deel van ATKV-Postmatriek, ’n oorbruggingsprogram vol avontuur en uitdagings wat jongmense gereed kry vir die grootmenswêreld. Hulle het pas met ’n fietstoer van 400 km van die Drakensberge tot by die Tugela-mond klaargemaak toe sy die nuus kry – een oggend het die hulporganiseerder van hierdie program, Sylvester Smith, aan die ontbyttafel vir Megan gelukgewens met die ATKV-Woordveertjie wat sy en Daniëlla ontvang het vir As jy droom.
“Dit was fantasties om hierdie nuus te kry en dit was ook baie inspirerend vir my medestudente in die program,” sê Megan. “Met hierdie postmatriekprogram het ek net weereens gesien dat ’n mens enigiets kan vermag as jou kop reg is en jy dit met die regte ingesteldheid aanpak. Die fietstoer was vir my ’n hengse uitdaging, want my rug is gebreek en ek moet ingaan vir ’n operasie, maar ek probeer dit so ’n bietjie uitstel, omdat ek so jonk is. Tog het ek die hele fietstoer klaargemaak en aan myself bewys dat as jy besluit om iets te doen, kan jy dit regkry. Glo my, 400 km op ’n fiets is baie ver!”
Tydens die virtuele aankondiging van die Woordveertjies het Daniëlla saam met haar gesin en haar ouers by haar broer en sy gesin in die Kaap gekuier. Sy was uit haar vel oor die nuus. Die hele familie het daardie dag na Kirstenbosch gegaan en heerlik feesgevier by die restaurant. Dit was twee dae voor haar verjaarsdag en beslis ’n wonderlike vroeë verjaarsdaggeskenk, sê Daniëlla.
Megan en Daniëlla is albei beslis nog nie klaar geskryf nie. Megan is reeds besig met ’n volgende inspirerende boek, Take Control. Haar pa se afsterwe is die dryfveer hiervoor. ’n Mens kan nog die een oomblik alles hê, maar eensklaps kan dit van jou af weggevat word. Daarom moet jy altyd sorg dat jou eie fondasie stewig is, sê sy.
Daniëlla sê sy sal ook graag nog boeke wil skryf – dalk ’n kleuterboek of twee vir haar eie kinders. Daar is weer ’n babatjie op pad en as alles goed gaan, sal Simoné in Maart volgende jaar ’n boetie of sussie hê.
Vir sowel Daniëlla as vir Megan bly die heel belangrikste egter dat As jy droom deur soveel as moontlik tieners gelees moet word. Dis ’n ongelooflike verhaal van vasbyt, deursettingsvermoë en harde werk om jou drome te verwesenslik. ’n Mens mag immers nooit ophou droom nie.