Durban gee eerste asemteug aan Tienertoneel 2026
Die ligte het in Durban aangegaan, die eerste woorde het weerklink en die 62ste ATKV-Tienertoneel het sy eerste asemteug geneem.
Van 23 tot 25 Julie 2026 het die Playhouse-teater die verhoog gebied vir die eerste streeksfees van vanjaar se ATKV-Tienertoneelseisoen. Altesaam 246 deelnemers in 11 produksies het met verbeelding, moed en oorgawe hul stories met gehore gedeel.
Vanjaar se tema, “ASEM”, herinner deelnemers én gehore aan daardie enkele oomblik voordat ’n storie begin: die diep asemteug voor die eerste tree op die verhoog, die stilte voor die eerste woord en die moed om iets van jouself met ’n gehoor te deel.
Durban het die toon aangegee vir ’n nasionale seisoen waarin 3 270 jong deelnemers in 191 ATKV-Tienertoneelproduksies regoor Suid-Afrika die verhoog hul eie gaan maak. Tog lê die waarde van die projek nie net in die omvang daarvan nie, maar in die geleentheid wat dit jong kunstenaars bied om te groei, te waag en hul stem te ontdek.
Mentorskap wat stories verder laat asemhaal
Elke produksie tydens die Durban-streeksfees is deur ’n ervare paneel mentorbeoordelaars begelei. Vanjaar se Durban-mentors was Marijda Kamper, Jacques Bessenger, Wilhelm van der Walt en Karli Heine.
Ná elke opvoering het die deelnemers tydens intieme mentorsessies die geleentheid gekry om oor hul kreatiewe proses te gesels, nuwe perspektiewe te ontdek en praktiese leiding oor spel, regie, tegniese aspekte en storievertelling te ontvang.
Hierdie gesprekke vorm die hart van ATKV-Tienertoneel – nie bloot om produksies te beoordeel nie, maar om jong kunstenaars toe te rus en ’n lewenslange liefde vir teater te help vestig.
Durban se bestes word vereer
Die Durban-streeksfees is met ’n feestelike prysuitdeling afgesluit waar uitstaande prestasies op én agter die verhoog erken is.
TEGNIESE TOEKENNINGS
Beste verhoogbestuurder
Beste beligtingsoperateur
Beste klankoperateur
Beste hantering van tegniese aspekte
TOEKENNINGS VIR SPEL
Beste akteur in ’n hoofrol
Beste aktrise in ’n hoofrol
Beste ensemble
PRODUKSIETOEKENNINGS
Beste regisseur
Beste produksie
ATKV-Sêr het ook tydens die Durban-streeksfeesfinaal sy eerste asemteug van die seisoen geneem, met drie produksies en 60 deelnemers wat ’n besonder hoë standaard gestel het. Die groepe ontvang pasgemaakte stemnotas van die mentors om hul verdere groei en ontwikkeling te ondersteun. Die volgende ATKV-Sêr-groepe tree op 14 Augustus in Gqeberha en 15 Augustus in Bloemfontein tydens die onderskeie ATKV-Tienertoneel-streeksfeesfinale op.
Hoewel die gordyn nou in Durban gesak het, haal die ATKV-Tienertoneelseisoen verder asem. Die volgende streeksfees vind van 27 Julie tot 1 Augustus 2026 by die Unisa-kleinteater in Pretoria plaas, waar 26 produksies en 518 deelnemers tydens die eerste Gauteng-streeksfees hul stories sal vertel.
Programme, kaartjies, produksie-inligting, feesnuus en uitslae is beskikbaar by www.asem.in.
Kom haal saam asem.