Skip to main content

“’n Meesterklas in mediese verslaggewing.” Dit is hoe een beoordelaar die werk van die wetenskapjoernalis, Elsabé Brits, beskryf het. Brits is as die wenner van die ATKV se spesiale Covid-toekenning vir uitmuntende Afrikaanse beriggewing oor die pandemie aangewys. Om vir die toekenning in aanmerking te kom, moes deelnemers ’n korpus van drie artikels/bydraes vir beoordeling inskryf. Brits se bydraes (Hartchirurg onder skoot ná ‘volkome snert’ oor inenting, Verby breekpunt: 6 verhale uit die Covid-loopgrawe en Covid-19-entstof: die regering se kriminele versuim) het almal in Vrye Weekblad verskyn.

Sy is ook geloof vir haar “uitstekende, wetenskaplike navorsing” en die feit dat sy “aannames en mistasting oor Covid-19 ondersoek en bevraagteken en feite staaf in direkte en kristalhelder skryfwerk.”

Nog ’n beoordelaar het verwys na hoe Brits “die taal van die wetenskap gebruik om reguit, op die man af, kartetse af te vuur in die stryd teen die verwarring wat gesaai word. Sy spaar niemand, en daarom is wat sy te sê het, baie belangrik om te hoor”. As wenner word Brits met prysgeld van R15 000 beloon.

Pieter Steyn, regisseur van die aktualiteitsprogram Prontuit op kykNET, is as die naaswenner van die kompetisie aangewys. Die Prontuit-bydraes Kinderhuise en die inperking, Entstofpaspoorte en Verpleegsters en Covid word beskryf as ’n uiters aktuele en tog steeds empatiese manier om die menslike gesig van die pandemie op ’n treffende manier te belig. Een beoordelaar het die bydrae oor verpleegsters beskryf as ’n “tydsdokument vir die toekoms wanneer daar na die pandemie teruggekyk word”. Steyn ontvang R10 000 prysgeld.

Murray La Vita, spesialis-skrywer vir Netwerk24, se bydraes Arts se WhatsApp-stryd teen virusInperking: Stille nag en ’n laksman en Covid-19: ‘Laat hulle koek eet’, het aan hom die derde plek besorg. Een beoordelaar het La Vita se poëtiese taalgebruik en liriese beskrywing van sy belewenis tydens die Covid-pandemie uitgesonder. ’n Ander beskryf die bydraes as iets wat die leser “aan die keel gryp” en werk waardeur “die leser die mense waaroor La Vita skryf, behoorlik kan sien en hoor in hul daaglikse stryd teen die honger en die virus”. La Vita wen R5 000 prysgeld vir sy werk.

Met die spesiale Covid-toekenning wil die ATKV erkenning gee aan joernaliste wat in ’n era van toenemende fopnuus moeite gedoen het om die publiek ingelig te hou deur feitelik korrekte, prikkelende beriggewing oor die Covid-19-pandemie en die invloed daarvan op ons land en die wêreld.

Sonél Brits, besturende direkteur van ATKV-MSW, het die media bedank vir hulle harde werk tydens baie uitdagende en hoogs uitsonderlike tye. “Ons almal se leef‑ en werkswêreld het met die koms van Covid onherroeplik verander, en om die publiek ingelig te hou, het besondere uitdagings aan die media gestel. Nie net omdat joernaliste se beweging, net soos die res van ons s’n, aanvanklik aan bande gelê is nie, maar ook omdat hulle deurentyd moet meeding met sosiale media en sensasionele fopnuus wat soos ’n veldbrand kan versprei. Die ATKV wil ek elke joernalis en programvervaardiger bedank vir die ekstra moeite wat julle in hierdie uitsonderlike tye doen.”

Die ATKV bedank die beoordelaars Martie Pansegrouw, Bettina Wyngaard, Kirby van der Merwe, Marietta Kruger en Annemarie van der Walt vir hulle bydrae tot die sukses van die projek. Ilse Salzwedel was die projekorganiseerder.