Skip to main content

Die akteur wat kan spog dat sy vanjaar gekroon is as die wenner van die ATKV se DigiToneel-kompetisie is Elzaan Daniels van Elsiesrivier in die Kaap. Elzaan het vanjaar haar matriek aan Hoërskool Jan van Riebeeck voltooi en het met haar inskrywing, My future is innie verliede, die mentorbeoordelaars van vanjaar se kompetisie oortuig van haar talent. Haar teks, geskryf in Kaaps, deel die rou emosie van ʼn vrou wat voel dat niemand na haar luister nie. Ook nie die Here nie. Dan neem sy onverantwoordelike besluite wat uiteindelik baie slegte gevolge inhou.

Moenie glo dat Elzaan ’n donker, bitter mens is nie. Die vriendelike donkerkop verklap gou dat dit die klein dingetjies in die lewe is wat haar gelukkig maak: die kleur groen, mooi blomme, ’n pragtige landskap. Ook wanneer die mense om haar gelukkig is en sy lekker kan lag. Sy is ’n enigste kind en al het sy soms in haar grootwordjare die geselskap van ʼn boetie of sussie gemis, was die onverdeelde aandag wat sy van haar ouers gekry het sommer baie lekker.

Elzaan wag tans om uit te vind of sy gekeur is vir dramastudies aan die Universiteit van Kaapstad. Sy hoop dit sal gebeur want die dinge in die lewe waarvan sy regtig baie hou, is skryf en toneel, drama en teater.

“My liefde vir die verhoog kom ’n lang pad en ek het al reeds in die laerskool aan Eisteddfods deelgeneem. Glo my, dit het elke keer baie trane geverg, maar ek het gou agterkom die hele proses is vir my so lekker, dit is iets wat ek altyd sal wil doen. In my Graad 9 jaar het ek geoudisie vir die skool se Tienertoneel maar ek het ongelukkig nie plek gekry nie. Tog het ek die ander dopgehou wat dit gedoen het, en die volgende jaar was ek wel deel van die kompetisie.

“In 2020 het ek vir die eerste keer deelgeneem aan die ATKV-DigiToneel-kompetisie en ek was baie opgewonde om uiteindelik een van die Top 12 te wees. Dit was dus onvermydelik dat ek weer hierdie jaar sou inskryf. Op die verhoog voel ek veilig, dit maak my ongelooflik gelukkig en ek sal niks anders wil doen nie. Mense vra my altyd of ek nie bang is vir ’n kamera nie, maar ek dink nie so daaraan nie. Dit bied aan my ’n platform om iets van myself te deel en ek gee nie om wat die platform is nie, verhoog of voor die kameras,” sê Elzaan.

Al het sy in haar Graad 8 jaar haar enkel gebreek, het sy altyd ywerig aan sport deelgeneem en sy was selfs vanjaar nog in die eerste hokkiespan. Sy speel graag kitaar, en wil hierdie kuns nog verder verfyn. Elzaan se pa is self ook musikaal en hy speel kitaar en tromme speel. Haar gunstelingmusiek is klassieke jazz, maar haar musieksmaak is eintlik wyd en uiteenlopend.

Elzaan lag en sê sy was kleintyd veels te lui om te lees, maar toe sy die dag agterkom watter wonderlike stories daar in boeke opgesluit lê, het sy al hoe meer begin lees. Dit het haar altyd gehelp ontsnap uit die hede. Nou is skryf een van die dinge wat sy doen wat haar die gelukkigste maak. Sy het ’n skryfkursus van Almal Nel by hulle skool voltooi en het ook haar eie monoloog vir vanjaar se deelname self geskryf. Haar afrigter, die skrywer en akteur Kanya Viljoen het haar ook leiding hiermee gegee. Sy is veral dankbaar dat die teks van My future is innie verliede opgeneem is in die bundel wat die ATKV vanjaar digitaal vrygestel het. Dit is haar eerste gepubliseerde teks, maar hopelik nie die laaste nie.

Afgesien van die R5000 prysgeld en die trofee wat sy as wenner van 2021 se DigiToneel-kompetisie verower het, het sy ook ’n jaar se deelname aan NovieGuide gewen. NovieGuide is ’n aanlyn opvoedkundige platform wat akteurs help om hulle vaardighede te slyp. Die akteur Edwin van der Walt is die skepper hiervan en hanteer die opleiding. Elzaan is baie opgewonde om hieraan deel te kan hê. Sy hoop om eendag die geleentheid te kry om in ’n produksie saam met sekere van haar mentors, soos Edwin, in hierdie kompetisie, te werk.

“Om die kompetisie te wen was een van my grootste drome wat waar geword het. Ek is so dankbaar dat iemand die kans gewaag het en my hierdie geleentheid gebied het deur my te laat wen,” sê Elzaan. “Dit gaan so baie deure vir my oopmaak. Uiteindelik wil ek graag my stories met mense deel. Daar was ’n tyd toe ek gewonder het wat ek gaan bereik want daar het baie werk en baie ure daarin gegaan.