Emily Hobhouse: ’n Optog wat geskiedenis herleef
Op 31 Oktober vind ’n surrealistiese optog in Bloemfontein plaas – nes 100 jaar gelede. Dit was die dag toe Emily Hobhouse geëer is – die eerste staatsbegrafnis vir ’n vrou, en die enigste vir ’n buitelander. Op daardie dag vier ons die merkwaardige lewe van Emily – pasifis, feminis en humanis.
“Die seremonie gaan so getrou moontlik herskep word soos dit in 1926 by die Vrouemonument in Bloemfontein op die terrein van die Oorlogsmuseum was,” sê Elsabé Brits, projekleier van Emily 100.
’n Totaal van 650 mense neem deel in die klere van die tyd. Nes in 1926 sal 200 meisies van die Eunice High School en die Hoër Meisieskool Oranje voor in die stoet loop, en ’n skoolkoor sal die liedere van toentertyd sing. Die Vrystaatse Jeugblaasensemble, onder leiding van Dingaan Chabalala, sal die mars aangee. By die monument speel hulle Largo van Händel en ook volg ’n perdekommando.
“Hierdie is ’n geleentheid wat mense nie sommer weer in Suid-Afrika sal beleef nie.”
Hoekom maak Emily saak?
Emily Hobhouse was ’n fluitjieblaser. Teen groot persoonlike koste het sy die haglike toestande in die konsentrasiekampe, bestuur deur mans, op die lappe gebring. Alleen het sy ’n magtige ryk uitgedaag om vergrype in die gesig te kyk, in die middel van ’n oorlog toe patriotiese sentiment hoog loop. Tydens ’n era waar vroue geen stem gehad het nie, het sy aangedring dat ongeregtigheid raakgesien en reggestel word.
Kaartjies vir “Ons onthou Emily” is beskikbaar teen R15 per persoon by Webtickets en gratis vir kinders onder 12. Daar is gratis parkering op die skouterrein.
Die hekke open om 08:30 en sitplekke moet om 10:30 ingeneem word. ’n Regstreekse TV-uitsending begin om 11:00.
Wat kan jy verwag?
- ’n Splinternuwe uitstalling oor die lewe van Emily
- ’n Demonstrasie van hoe kant gemaak word, asook spin-en
- ’n Blokkies vir Emily-
- ’n Herskepte seksie van ’n Daar sal interessante gedenkwaardighede en boeke te koop wees, asook heerlike kos.
Deon Opperman het ook ’n splinternuwe musiekteaterdrama geskryf met die titel Die Storie van Emily/The Story of Emily. Die musiek word deur Janine Neethling behartig en regie deur Nico Scheepers. Die rolverdeling bestaan uit Kate Normington (Emily Hobhouse), Dawid Minnaar (Lord Milner), Greg Viljoen (Lord Kitchener) en Daneel van der Walt (verteller).
Hierdie teaterdrama vind op 28-31 Oktober by die Sand du Plessis-teater in Bloemfontein plaas en kaartjies is by Webtickets te koop.
’n Nuwe film oor die lewe van Emily word ook op 25 Oktober om 20:30 op kykNET uitgesaai.
Al die besonderhede van Emily 100 is by ’n splinternuwe webblad beskikbaar. Lees dit gerus hier. Besoek die amptelike Facebook-webblad vir Emily 100 hier, die Instgram-blad hier en die TikTok-blad hier.