Expression Session stook Crescendo-talent

Een van Suid-Afrika se oudste platforms vir voornemende liedjieskrywers en sangers span nou kragte saam met Expression Session, ’n maandelikse byeenkomplek vir kunstenaars, om die net nóg weier te gooi en Suid-Afrika se talent te ontgin.
ATKV-Crescendo het Expression Session genader om met hul maandelikse byeenkomste talent te identifiseer wat moontlik verder met ATKV-Crescendo se mentorprogramme ontwikkel kan word.
“Expression Session is ’n fantastiese platform waar kunstenaars voor ’n gehoor hul talente ten toon kan stel. Dit sluit enige genre in van ‘spoken word’, hip-hop en alles tussenin,” sê Morné van Staden, projekorganiseerder.
Robin-Dean Fourie, kletsrymer en kreatiewe regisseur van ATKV-Crescendo, het Expression Session in 2008 in Worcester begin as ’n poging om ’n platform vir jong kunstenaars in die omgewing te skep.
Sedertdien het die konsep verder uitgekring na Kuilsrivier, Oudtshoorn en George.
“Daar is geen beperking op hoeveel kunstenaars op die dag besluit om op te tree nie,” sê Jerome Rex, organiseerder van Expression Session in Kuilsrivier.
“Die meeste van die deelnemers is sangers, kletsrymers, akteurs en dansers, maar entrepreneurs en modeontwerpers het ook al op die dag hul talente kom ten toon stel.
“Ons is baie opgewonde om weer saam met ATKV-Crescendo te werk en om saam met hulle kunstenaars te help identifiseer en te ontgin,” sê Jerome.
Volgens Morné is die sanger Petronel Baard verantwoordelik daarvoor om belowende talent by hierdie byeenkomste te identifiseer, wat moontlik voldoen om aan die ATKV-Crescendo se mentorprogram deel te neem.
“Kunstenaars wat só geïdentifiseer word, gaan outomaties deur, maar ons gewone inskrywings bly steeds dwarsdeur die jaar oop,” sê hy.
Twaalf finaliste word vir die mentorprogram gekies en word jaarliks by die Crescendo-konsert bekendgestel. Die finaliste gaan dan voort om saam met ervare kunstenaars soos Deon Meiring, Danie du Toit en Robin Fourie te werk om hulle talente te slyp en ook kennis van die industrie op te doen.
Verskeie bekende kunstenaars, soos Jodi Jantjies en Whaden Johannes, het hulle tande by ATKV-Crescendo vir die bedryf geslyp.
“Ons hoop om met ons samewerking met Expression Session selfs nog meer talent te identifiseer en vir belowende kunstenaars die nodige leiding te gee om van hulle loopbaan ’n sukses te maak,” sê Morné.