Feestyd-bederf vir vrouegevangenes in Wes-Kaap

Desember is ’n tyd van samesyn met familie. Die etenstafels kreun onder smullekker kos en in die saamwees is dit ook vir ons ’n tyd om stil te raak en af te sluit.
Vir die meeste mense is die feestyd ’n hoogtepunt op hul kalender, maar party mense ervaar hierdie tyd egter as eensaam en verdrietig.
“Die ATKV-tak Oudtshoorn het egter uitgereik na ’n groep vroue wat nie oor die Kerstyd by hulle gesinne kan wees nie toe hulle op 22 November die plaaslike gevangenis besoek het,” sê Suzette Malherbe Basson, takvoorsitter.
Die tak het die ATKV-jeugtak Struisies saamgeneem op die uitreik.
“Ons het dit gedoen om vir die kinders te wys dat dit doogewone mense is wat daar opgeëindig het en hoe maklik dit is om in die tronk te beland as jy slegte keuses maak.”
Deon Jacobs van Die Gideons het op die dag vir die vroue elkeen ’n Bybeltjie gegee en die tak het bederfpakkies met room, seep, ’n waslap en reukweerder aan hulle uitgedeel.
“Vir party van hulle is dit ’n absolute luukse paar items. Om die paar goedjies te hê, help om jou menswaardigheid te behou. Ons het ook sjokoladekoek geneem en dit is ook iets wat jy mos nie daar kry nie,” sê Suzette.
Volgens Suzette is dit vir hulle belangrik om uit te reik na vroue.
“Om daar te beland en in daardie omstandighede te leef en te oorleef is een van die grootste en ergste strawwe wat enige mens kan uitdien.
“Ons wil vroue bemoedig en waardig laat voel. Vroue moet besef dat hulle kosbaar is. Vroue speel ’n groot rol in die samelewing en kan ’n groot verskil maak – veral in hul gesinne – en kan beslis ’n impak maak in die wêreld. Dit bly ’n uitdaging om verskillende rolle van vrouwees te hanteer. Ons praat hulle moed in.”