Finalis gee nuwe betekenis aan ‘crescendo’ met lied
Die woord crescendo het in die 18de eeu in Italië ontstaan. Die betekenis was “om te vermeerder” en dit het gespruit uit die oorspronklike Latyn, crescere, oftewel in Afrikaans vertaal, “groei”.
Bykans vier eeue later en ’n vasteland of twee en meer as 12 000 kilometer verder, doen Lucia Poggenpoel, finalis van die ATKV se gelyknamige kompetisie, dié definisie meer as net gestand. Leer ’n mens dié meer-as-net-’n-aspirantmusikant beter ken, besef jy sy vergestalt by uitstek die definisie van crescendo in liefde (aldus die webwerf simplycelebrate.net): “Ons kan ons lewens leef met die toewyding om aan te hou groei en konstant te verdiep en te verbreed in die maniere waarop ons in ons wêreld liefhet. Dít is die gevoel van crescendo.”
Dit is nie net wat Lucia inherent glo nie. Dit is wat sy uitleef in woord, daad en lied – en dit het vroeg reeds begin. Sy het van kindsbeen af besef sy is gaande oor musiek en die kunste, en het reeds op laerskool in die Kanariekoor gesing en met klavierlesse begin. Sy het egter op hoërskool eers haar eerste solo vir haar klavieronderwyseres gesing. “Die juffrou was gaande oor my stem. Sy het my so gemotiveer en geïnspireer, en dis waar my passie vir sang werklik vlamgevat het,” vertel sy.
Oor die jare het Lucia noot vir noot van krag tot krag gegaan en verlede jaar vir die eerste keer vir ATKV-Crescendo 2023 ingeskryf met twee liedere. Sy was baie opgewonde toe sy gekeur is om die werkswinkelsessies by te woon. “Die mentors en ook die ander deelnemers het my baie welkom laat voel; hulle was omgeemense, hartsmense,” sê sy.
Lucia vertel sy het tydens die werkswinkel baie gegroei as mens, as liedjieskrywer en ook as kunstenaar. “Ek is baie geïnspireer deur die mentors wat ons gehelp het om nog dieper te delf na die goue skatte wat binne-in ons lê; liedere wat ontsluit moet word en vorm en ritme moet aanneem,” verduidelik sy.
Sit dit aan …, die platform vir en konsert met die room van Afrikaanse liedjieskryftalent, was eweneens vir Lucia ’n onvergeetlike ervaring. “Die geleentheid as ’n geheel was ongelooflik en die feit dat elke kunstenaar oorspronklike liedere kon vertolk saam met ’n vol orkes was ’n absolute bonus,” vertel sy. “Elkeen van ons moes die stories van en agter ons liedere vertel. Die vertoning is met groot sorg aangebied en dit was baie intiem. Ek het al baie opgetree, maar Sit dit aan … staan uit as een van my mees besondere aande op die verhoog.”
Vir Lucia is dit egter steeds net die begin. In haar liedjie “Crescendo”, wat in 2024 gebruik sal word as deel van die mentorprogram se 50ste bestaansjaar, sing sy:
“My Crescendo
Jy was die ritme van my hart vol hoop
My Crescendo
Op die maat van jou musiek het ek geloop”
’n Versie en ’n koor of wat later, gaan Lucia verder:
“’n Sagte reus om te onthou
Noot vir noot, ons het ’n lied gebou”
Dié musiek en liriek, vermoed ’n mens, is nie net die lied uit Lucia se siel nie. Dit is ’n weerspieëling van ATKV-Crescendo se nimmer oud, immergroen hart op 50.