Finaliste van 60ste ATKV-Tienertoneel bekend
JJ van Niekerk, projekorganiseerder van die ATKV-Toneelaanbod, is daarvan oortuig dat hierdie projek simbioties ’n rol speel in die manier hoe mense na mekaar kyk en saam leef.
“ATKV-Tienertoneel het in sy 60ste bestaansjaar weereens bewys gelewer van simbiotiese talent, passie en kreatiwiteit. Die produksies praat hard en duidelik met elke gehoorlid en die stories kruip in die harte van teatergangers, wat ’n werklike verskil in ons samelewing teweegbring. Dit was ook vanjaar opmerklik dat ATKV-Tienertoneel die platform bied om die taal inklusief te bevorder deurdat ander landstale en selfs internasionale tale saam met Afrikaans op verhoë gehoor is. Die passievolle manier waarmee leerders wat Afrikaans as hul derde of selfs vyfde taal beoefen en dan ook so stories uit hul gemeenskap vertel, was boeiend en inspirerend,” sê JJ.
Die slegs-leerders-kategorie (vir produksies waar leerders alle aspekte van teater self behartig) het ’n geweldige groei in standaard getoon deurdat daar vanjaar vir die eerste keer sedert 2019 weer ’n slegs-leerders-produksie in die nasionale top-10-produksies is.
Die top-10-produksies word genooi na die nasionale Simbiose-finaal, wat tussen 23 en 28 September in die Kunstekaap-dramateater in Kaapstad plaasvind.
Hierdie finaal pas naatloos in by vanjaar se “simbiose”-tema en hope is op die spel:
Die wenproduksie stap vanjaar weg met die ATKV-Tienertoneel-wisseltrofee, R30 000 kontant en ’n speelvak tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die naaswenner kry ’n kontantprys van R20 000 en die derdeplekwenner kry R10 000.
Totale prysgeld van R65 000 word vanjaar uitgeloof en die beste van die bestes word tydens ’n spogprysuitdeling op 28 September gekroon.
Die top-10-produksies wat na die nasionale finaal deurdring, is as volg:
- 99 Luftballons deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
- CALLBACK deur die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad
- Hoe lyk ’n engel? deur die Hoërskool Garsfontein in Pretoria
- KAMP SAAM deur die Hoërskool Durbanville in Durbanville (*slegs-leerders-produksie)
- Kou my vingers tot die been deur die Hoërskool Eldoraigne in Centurion
- Mensdom deur die Curro Durbanville Hoërskool in Durbanville
- SPEL deur Potchefstroom Gimnasium in Potchefstroom
- Teddie et al. deur die Hoërskool Zwartkop in Centurion
- VIR SPOT deur die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes
- Wat wolke weeg deur die Hoërskool Hugenote in Springs
Kaartjies vir die nasionale Simbiose-finaal is vanaf Woensdag 4 September op Webtickets beskikbaar.
Hou die ATKV se webwerf en sosialemediablaaie dop vir meer inligting oor ATKV-Tienertoneel se nasionale finaal en moenie hierdie spoggeleentheid misloop nie.